Die Shoprite Groep nooi studente wat puik presteer en wat graag by die kleinhandelbedryf wil aansluit om vir sy omvattende beursprogram aansoek te doen.
Studente wat vir graadstudies in rekeningkunde, biologiese wetenskappe, kriminologie, inligtingstegnologie, logistiek en voorsieningsketting, kleinhandelsakebestuur, voedselwetenskappe of landbouwetenskappe ingeskryf is, kan nog tot 30 April om finansiering aansoek doen. Die omvattende beurs dek onderrig en verblyf.
Indiensneming ná graduering is gewaarborg wat aan begunstigdes 'n naatlose toetrede tot die besigheid gee, wat hulle in staat stel om by die bedryf se toptalent, kundiges en mentors te leer.
Boonop ontvang beurshouers 'n maandelikse kruidenierstoelaag en geniet hulle toegang tot die Shoprite-werknemerwelstandprogram.
In die afgelope boekjaar het die groep R14,9 miljoen in sy beursprogram belê, wat 200 studente gefinansier het.
Dié kleinhandelaar is die grootste privaatsektor-werkgewer in Suid-Afrika.
Die beste ding van die beurs is dat jy 'n werk gewaarborg is, en die nagraadse program verseker dat jy die vaardigheid en die selfvertroue het om 'n impakvolle bydrae in jou veld te maak.
In 2023, vir die derde agtereenvolgende jaar, is die handelaar met die Gradstar Students' Choice Award vir voorkeur-werkgewer in die kleinhandelsektor bekroon.
"As 'n leier in kleinhandel-innovasie bied die maatskappy 'n grondslag vir jong talent om te groei en floreer. Ons beurse is in lyn met kritieke vaardighede in die besigheid en ons toewyding om die lewe van jong mense op te hef deur hulle toegang tot hoogs geskoolde rolle te bied," sê Leigh Adams, hoof van talent en leeroplossings by die groep.
Harry Makobe (23) van Olievenhoutbosch in Centurion het finansiering ontvang vir die finale jaar van sy BCom-voorsieningskettingbestuur-graad aan die Universiteit van Pretoria. Die groep het ook sy nagraadse graad gefinansier en hom in 2023 in die voorsieningsketting-gegradueerde program opgeneem. Hy is later as winkelaanvulling-ontleder aangestel.
"Die beste ding van die beurs is dat jy 'n werk gewaarborg is, en die nagraadse program verseker dat jy die vaardigheid en die selfvertroue het om 'n impakvolle bydrae in jou veld te maak," sê Makobe.
Rachel-Leigh Audier (25), van Germiston in Gauteng, is op pad om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word nadat die groep haar graad in rekeningkunde en nagraadse studies aan die Universiteit van Johannesburg gefinansier het.
"Ek is in my derde jaar van opleiding en kon nie vir 'n beter plek gevra het om te leer en te groei nie. Ek is blootgestel aan verskeie dele van die besigheid en het vaardighede opgedoen wat tot ver in die toekoms toegepas kan word, wat in lyn is met die nuwe SAICA CA2025-program," sê Audier.















