Die vroulike geslag oorheers vanjaar in die groep topmatrikulante in die 42ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad. Die name van die finaliste en semifinaliste word vandag aangekondig.

Vanjaar is 26 finaliste en semifinaliste aangewys. Nie minder nie as 22 van hulle is meisies. Die 14 topfinaliste, waarvan net twee seuns is, neem van 9 tot 11 Oktober aan die eindronde by Monte Bello buite Bloemfontein deel, terwyl die 12 semifinaliste ook kwalifiseer vir beurse en prysgeld van die borge. Hierdie 26 uitblinkers is matrikulante wat aan die vereistes van prestasies op akademiese, leierskap-, sport- en kultuurgebied voldoen. Vanweë die uitstekende gehalte van die inskrywings is daar vanjaar 26 in plaas van 25 semifinaliste aangewys.

Die Kovsie-Alumni-trust is die hoofborg van die kompetisie en gee R125 000. Die ander borge is Absa (R85 000), Pick n Pay Preller Walk (R15 000 vir die wenner en kombuisware vir die 14 finaliste) en Mazars (R35 000). Die 14 finaliste en hul ouers word gedurende die eindronde in Bloemfontein bederf.

Die wenner ontvang R25 000 prysgeld in sy of haar Absa-rekening ná registrasie in 2023 en 'n studiebeurs van R12 000 van UV-Studentewerwing. Die 13 finaliste kry R12 000 prysgeld, ook ná registrasie, in 'n Absa-rekening, asook 'n studiebeurs van R7 500 en ander geskenke van die borge.

Twee spesiale pryse van R5 000 elk word geskenk deur die Kovsie Alumni-trust en sal toegeken word vir uitstaande persoonlike prestasies in sport en kultuur.
Die 11 semifinaliste kwalifiseer vir 'n studiebeurs van die UV (R3 500) en 'n kontantprys van die borge (R5 000) sodra hulle in 2023 aan die UV registreer.

Tydens die finale beoordeling in Bloemfontein sal ses beoordelaars, wat die borge verteenwoordig, onder meer onderhoude voer met die 14 finaliste.
Die kompetisie se ouditeurs, Mazars, sal deurentyd teenwoordig wees om seker te maak die beoordeling verloop glad en regverdig.
- Die 14 finaliste en 12 semifinaliste se foto's verskyn hier in alfabetiese volgorde.




















