Atletiek

Adele sal weer op eie wedloop in Comrades fokus

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Adele Broodryk toe sy verlede jaar in die kleure van Murray & Roberts derde in die Comrades geëindig het.  Foto: Gallo Images
Adele Broodryk toe sy verlede jaar in die kleure van Murray & Roberts derde in die Comrades geëindig het. Foto: Gallo Images

Adele Broodryk was verlede jaar in haar debuut derde en die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die Comrades-eindstreep in Durban.

In Sondag se 96ste Comrades-ultramarathon - die 48ste van Pietermaritzburg na Durban sedert die eerste wedloop in 1921 - sal die 32-jarige Broodryk op haarself fokus en haar eie wedloop hardloop.

Die wedloop word oor 'n afstand van 87,701 km tussen die stadsaal van Pietermaritzburg en die Kingsmead-krieketstadion in Durban beslis.

Al was sy verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse vrou, is daar nie druk op haar nie. Dit is eerder op Gerda Steyn, die goue vrou van Suid-Afrikaanse padatletiek, wat 'n goeie kans het om Frith van der Merwe se 34 jaar oue rekord van vyf uur, 54 minute en 43 sekondes in die afwedloop te verbeter.

Die kans is goed dat Steyn, die SA marathonrekordhouer, die rekord kan breek omdat die roete vanjaar weens padwerke tussen die twee stede 2,2 km korter is.

Terselfdertyd sal ek ook moet seker maak die gaping tussen my en die voorlopers word nie te groot nie.

Die wedloopafstand is nooit twee keer dieselfde nie en daarom behoort die Comrades-rekord eenvoudig aan dié atleet wat die vinnigste tyd tussen die wegspring in Pietermaritzburg en die eindpunt in Durban hardloop.

Broodryk, wat met 'n bietjie geluk verlede jaar die naaswenner kon gewees het, sê sy sal gefokus bly op haar eie wedloopplan.

"Terselfdertyd sal ek ook moet seker maak die gaping tussen my en die voorlopers word nie te groot nie," sê dié sportwetenskaplike en dosent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Verlede jaar het die Rus Alexandra Morozova die wedloop vir vroue gewen in 6:17:48, gevolg deur die Pool Dominika Stelmach in 6:25:09.

Broodryk, wat net meer as 'n minuut ná die Pool oor die eindstreep is, glo as sy geweet het Stelmach is nie ver voor haar nie, sou sy oor die laaste paar kilometer harder gehardloop het om haar in te haal.

Broodryk het onlangs vir 16 dae lank saam met haar Nedbank-spanmaats hoog bo seevlak op Dullstroom in Mpumalanga voorberei vir Sondag se wedloop.

Sy sê Nick Bester, 'n voormalige Comrades-kampioen en spanbestuurder van die Nedbank-span, glo jy pluk die vrugte van dié oefening tussen tien en 14 dae nadat jy hoog bo seevlak geoefen het.

Ek het van die begin tot die einde gehuil so mooi en aangrypend was dit.

Soos dit 'n sportwetenskaplike betaam, het Broodryk wyd opgelees oor voorbereiding bo seevlak. "Dit wat Nick-hulle doen, stem ooreen met die literatuur oor oefen op 'n hoë hoogte.

"Geen mens reageer dieselfde hierop nie," sê Broodryk, wat 'n doktorsgraad in sportwetenskap het.

"Ek moet sê nadat ek in Dullstroom was, kan ek hier in Potchefstroom, wat ook taamlik hoog bo seevlak is, maar baie laer as Dullstroom is, voel ek hardloop makliker."

Hoog bo seevlak ontwikkel die liggaam op natuurlike wyse meer rooibloedselle. Wanneer die atleet dan byvoorbeeld aan die Comrades deelneem, is daar meer rooibloedselle in sy of haar liggaam om suurstof na die spiere te versprei. Dit speel die rol van 'n vervoerband.

Broodryk vertel sy het die laaste paar dae na SuperSport se dokumentêr "Down, a Comrades Story" oor die geskiedenis van die wedloop gekyk.

"Ek het van die begin tot die einde gehuil so mooi en aangrypend was dit. Omdat ek verlede jaar deelgeneem het, was dit nog meer spesiaal."

Broodryk het die laaste twee jaar goue medaljes in die Twee Oseane-wedloop (56 km) verower en twee keer in 'n ry die Om die Dam-wedloop (50 km) by die Hartbeespoortdam in Noordwes, gewen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM