Nuus

Comrades se ‘matriarg’ sterf

Cheryl Winn (links) saam met Gerda Steyn toe Steyn haar eerste van vier Comrades-titels in 2019 in die op-Comrades na Pietermaritzburg verower het.
Cheryl Winn (links) saam met Gerda Steyn toe Steyn haar eerste van vier Comrades-titels in 2019 in die op-Comrades na Pietermaritzburg verower het. (Foto: Gallo Images )

Cheryl Winn, ’n voormalige Comrades-vrouekampioen wat later voorsitter van die Comrades-vereniging (CMA) geword het, is Sondag skielik oorlede.

Winn is al die “matriarg van padatletiek in Suid-Afrika” genoem vir haar groot bydrae tot die ontwikkeling van padwedlope.

Sy in die naweek in die Drakensberg dood, waar sy natuurfoto’s – benewens die Comrades haar ander groot liefde – gaan neem het. Dit is nie bekend wat tot Winn, wat in haar 70’s was, se dood gelei het nie.

Winn is in Amerika gebore en was getroud met Mick Winn, ’n apteker van Pietermaritzburg, wat ook voorsitter van die CMA was. Mick Winn is ’n paar jaar gelede oorlede.

Cheryl Winn het in 1982 as 30-jarige die afdeling vir vroue in die Comrades as Cheryl Jorgenson (Pirates) gewen in 7:04:59 toe Bruce Fordyce sy tweede van nege Comrades-titels verower het.

Cheryl Winn (links) toe sy in 1982 die Comrades gewen het.
Cheryl Winn (links) toe sy in 1982 die Comrades gewen het. (Foto: Comrades)

In 1980 en 1981 was sy die naaswenner en het sy ook tweede in die Londen-na-Brighton-wedloop geëindig toe Fordyce een van sy drie oorwinnings in dié wedloop behaal het.

Ná haar laaste Comrades in 1984 het sy al hoe meer by die administrasie van die byeenkoms en ander padwedlope betrokke geraak.

Sy en Mick Winn was later die spil waarom die eertydse Suid-Afrikaanse Padwedloopvereniging in die 1980’s en vroeë 1990’s gedraai het, wat later ná eenwording in Suid-Afrikaanse atletiek deel van Atletiek Suid-Afrika geword het.

Benewens dat sy voorsitter van die CMA geword het, het sy in talle ander hoedanighede in dié organisasie gedien en was onder meer lank woordvoerder van die Comrades.

Sy het in 2017 die eerste Comrades-wenner geword wat tot voorsitter van die CMA, organiseerder van die Comrades-wedloop, verkies is.

Cheryl Winn
Cheryl Winn (Foto: Gallo Images)

“Cheryl se nalatenskap in die 104 jaar lange geskiedenis van die Comrades het geen gelyke nie.

“Haar dood is baie slegte nuus vir die Comrades-famlie. Sy bly die matriarg van die Comrades,” sê Mqondisi Ngcobo, voorsitter van die CMA.

Frith van der Merwe, ’n driemalige vrouekampioen, sê die nuus oor Winn se dood is baie slegte nuus. “Sy was ’n wonderlike mens.”

Fordyce sê hy is verpletter oor Winn se dood.

“Ek kan vandag aan niks anders dink as die slegte nuus oor Cheryl nie.

“Van al die Comrades-wenners wat daar oor die jare heen was, was sy dié een wat ná haar oorwinning die meeste vir die Comrades beteken het.

“Haar bydrae tot die Comrades as administrateur was groter as haar oorwinning destyds.

“Sy was die ruggraat van die Comrades. Cheryl het álles vir die Comrades gegee.

“Cheryl het Mick gehelp om die Comrades uit te bou tot dit wat dit vandag is.

“Ek kan my nie indink ons gaan oor twee jaar die 100ste Comrades sonder Cheryl vier nie,” sê die Comrades-koning.

Gerda Steyn, huidige Comrades-vrouekampioen en -rekordhouer, sê die nuus oor Winn se dood is vir haar “verskriklik en onwerklik”.

“Ons eer haar nie net as ’n voormalige kampioen nie, maar ook vir dit wat sy ná haar uittrede saam met haar man vir die Comrades gedoen het.

“Sy het teruggeploeg in die sportsoort wat so baie aan haar gegee het,” sê Steyn.

• Winn se dood volg net ’n week nadat Jetman Msuthu, die Comrades-kampioen van 1992, oorlede is.

– svdwalt@24.com

CTA