Meer as 20 000 langasems het ná maande van voorbereiding vanoggend aangetree vir die 49ste op-wedloop van die Comrades-ultramarathon oor 85.91 km. Albert Heenop vertel die storie van Bill Payn wat in net die tweede Comrades in 1922 een van die merkwaardigste wedlope van alle tye afgelê het.

'n Weddenskap, 'n bord kerrie-en-rys, 'n halfdosyn biere, 'n sluk perskemampoer en in rugbystewels pleks van hardloopskoene.
Dit alles het 'n Natalse Springbok-rugbyspeler meer as 'n eeu gelede deurgemaak toe hy ná 'n paar sopies uitgedaag is om die volgende dag in te skryf vir net die tweede Comrades.
Vir die duisende hoopvolles en bittereinders wat vanoggend die uitdagende Comrades-marathon aandurf, het die ultramarathon al etlike maande gelede begin met 'n oefen- en dieetprogram om hulle vir die wedloop én 'n medalje voor te berei.
Wyle Bill Payn, voormalige Springbok-flank van Natal, het egter alles net andersom gedoen en selfs ná 'n besoek aan 'n kroeg steeds die "ongehoorde" vermag om die Comrades op ongekende wyse in die agtste plek te voltooi.
Payn het vanaf 1912 tot 1930 in 59 rugbywedstryde vir Natal uitgedraf. Dit sou waarskynlik meer gewees het as dit nie was vir die Eerste Wêreldoorlog (1914-18), waartydens hy aktiewe diens in Europa verrig het nie.
Hy het ook vir die Springbokke in die eerste twee toetse teen Ronald Cove-Smith se Britse en Ierse Leeus in 1924 uitgedraf.
Die wêreldberoemde Britse langafstand-hardloper Arthur Newton, wat een van ses atlete sou word wat die Comrades vyf keer kon wen (1922-25, 1927), het aan die vooraand van die tweede Comrades in 1922 by Payn in Durban oorgebly.
Volgens oorlewering het Newton vir Payn, ná 'n paar stywe doppe, uitgedaag om ook in te skryf vir die volgende dag se marathon, van Durban na Pietermaritzburg - in sy rugbystewels.


"So het dit gebeur dat ek op 'n fris oggend in Mei, salig onbewus van dit waarvoor ek myself ingelaat het, op die streep gestaan het toe een of ander burgerlike hooggeplaaste 'n skoot afgevuur het voordat hy uiters verstandig teruggekeer het na sy warm bed toe," het Payn vertel, soos dit opgeteken staan in die boek Natal 100.
"Sal ek ooit daardie wedloop van hel vergeet.
"Kort voor lank het 'n alles-oorweldigende dors my beetgepak, terwyl my voete, toe ons Hillcrest bereik het, my eenvoudig doodgemaak het. Ek het my stewels uitgetrek om 'n massa blase op al twee voetsole te ontdek.
" 'n Barmhartige Samaritaan het vir my Brilliantine ('n haarversorgingsproduk) aangebied, waarmee ek my voete gesalf het. Daarna het ek gou by die hotel ingestrompel vir 'n groot bord spek en eiers.
Ek het 'n dosyn biere op die kroegtoonbank aangetree.
"Versadig en verkwik, het ek die wedloop voortgesit, en Botha's Hill uitgehardloop. Bo gekom, het ek 'n vriend van my, ‘Zoeloe' Wade, op moedverloor se vlakte teëgekom. Ons het langs die pad gaan sit om ons lot teenoor mekaar te bekla.
"Gelukkig het my maat se helper kort daarna sy opwagting gemaak met 'n rottangmandjie gevul met heerlike hoenderkerrie op 'n sneeuhoop rys. Nadat ek en hy saam daaraan gesmul het, het ons taamlik opgeruimd die volgende 10 km na Drummond aangepak."
Daar gekom het die groot dors egter weer die oorhand gekry en het Payn en sy makker die pad byster geraak om in 'n "aangename oase" - die kroeg - op te eindig.
"Ek het 'n dosyn biere op die kroegtoonbank aangetree, nie soseer om ons vordering te vier nie, maar eerder om ons sorge te verdrink," het Payn verduidelik.
"Terwyl ons besig was daarmee, het een van ons volgelinge opgedaag en ons aangespoor om die wedloop voort te sit, aangesien daar slegs vyf hardlopers voor ons was. Ek het na my nommer, nogal 111, gekyk, en gewonder wat van die res van die veld geword het.
"Zoeloe was nie in staat om voort te gaan nie, dus het ek alleen die res van die roete Maritzburg toe aangedurf.
"êrens, tussen Inchanga en Cato Ridge, het ek 'n brose klein dame met pienk wange langs die pad opgemerk. Sy het 'n bottel in die een hand opgehou en 'n glas in die ander.
"Ek het gestop, met ouwêreldse hoflikheid gebuig en gesê: ‘Hier tot u diens, madame'.
" ‘Dis perskebrandewyn,' het sy aangebied. ‘Ek het dit self gemaak.'
"Ek het 'n groot teug van die tuisgemaakte brousel geneem en oombliklik besef dat ek 'n bykans dodelike dosis ingekry het van die rouste vloeistof wat ek nog ooit geproe het.

"Ek is steeds daarvan oortuig dat daardie sjarmante juffroutjie krediet moet ontvang vir die uitvinding van vliegtuigbrandstof. Ek was egter té ver heen om te wonder of daardie bystand altemit die voorgeskrewe reëls van amateur-marathon-wedywering oortree het.
"In die buitewyke van Maritzburg, nes ek die Dusirivier oorgesteek het, het my vrou se familie my nader gewink waar hulle besig was om tee te nuttig op die stoep. Ek het gou afgedraai vir 'n koppie tee en 'n sny koek.
"Terwyl ons so gesellig verkeer het, het twee van my ‘gehate' mededingers my verbygesteek, en om dié rede het ek in die agtste plek geëindig."
Dit kan klink na 'n vergesogte storie, maar Arthur Newton, wat die wedloop in 8 uur en 40 minute gewen het, het Payn se humor-gevulde weergawe ten volle gestaaf.
Volgens die amptelike Comrades-webwerf het 114 drawwers ingeskryf vir die wedloop in 1922, teenoor die 20 600 wat vandag deelneem, met Payn wat dit in 10 uur 56 minute voltooi het.
Benewens die ongelooflike feit dat hy 'n top-10-plek losgehardloop het, het dié Comrades-episode Bill Payn se onblusbare passie vir die lewe versinnebeeld.
Ek het heelagter gespeel, in 'n paar ou tekkies.
"Terwyl ek in die kleedkamer van die skouterrein my bebloede voete gadegeslaan het," het hy afgesluit, "het my swaer, Wilfred Hagg, met verstommende insig oor my onmiddellike behoeftes, 'n bottel sjampanje aan my oorhandig.
"Net daarna het 'n rugbyvriend, Paul Hattingh, binnegestorm om my te herinner daaraan dat ek die volgende dag in 'n klubwedstryd vir Oud-Collegians teen Rovers moes speel, en my teruggeneem Durban toe agterop sy motorfiets.
"Ek het heelagter gespeel, in 'n paar ou tekkies."
Wegspringtyd
Meer as 20 000 atlete het vanoggend om 05:30 by die Durban-stadsaal aangetree vir die wegspring van die Comrades-marathon.
Vanjaar se Comrades is 'n "op-wedloop" vanaf Durban tot by die Scottsville-perdewedrenbaan in Pietermaritzburg.
ie 97ste Comrades word oor 'n afstand van 85,91 km gehardloop, met die laaste afsnypunt wat ná 12 ure (om 17:30) is.
Die wedloop word regstreeks op SuperSport (201, 208 en 209) uitgesaai.




















