Caster Semenya se outobiografie "Race to be Myself" word op 31 Oktober tegelykertyd in Suid-Afrika, Amerika en Brittanje vrygestel.
Semenya, straks die beste 800 meter-atleet ooit, was byna vier jaar lank onoorwonne en het twee goue medaljes op Olimpiese Spele en drie Wêreldkampioenskappe gewen. Maar haar loopbaan is aan flarde geruk ná beskuldigings dat sy - ondanks die feit dat sy gebore is met natuurlike hoë vlakke van testosteroon - nie 'n vrou is nie.
Sy is deur die internasionale atletiekbase verhinder om in sekere items teen ander vroue deel te neem tensy sy hormoonbehandeling daarvoor ontvang.
Volgens die uitgewer Jonathan Ball word die ikoniese Semenya se dramatiese reistog vertel, asook haar inspirerende stryd om in die "liggaam wat God aan my gegee het," deel te neem. - Sportredaksie





















