Een van Suid-Afrika se mees gesoute middelafstand-atlete, Elroy Gelant, tree Sondag aan in die eerste Run Your City-padwedloop oor 10 km wat in Gqeberha plaasvind.
Gelant is die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 5 000 m met 'n tyd van 13:04.88, wat hy in 2016 in Hengelo, Nederland, opgestel het.
Hy het Suid-Afrika 21 keer verteenwoordig, onder meer op twee Olimpiese Spele.
Gelant is 'n gereelde deelnemer aan die Run Your City-reeks, wat in 2015 die eerste keer aangebied is.
Hy sê sy peil is nou beter as voor vorige wedlope in die reeks.
"Ek het die laaste spoedwerk gedoen met die oog op die baanseisoen en ek sien uit na 'n vinnige tyd," sê Gelant.
"My mikpunt is 'n tyd van vinniger as 28:30. Ek sal daarmee tevrede wees."
Hy sê die Run Your City-wedlope lê hom na aan die hart.
"Dit gee Suid-Afrikaanse atlete die geleentheid om ons talent te wys teen buitelanders en regtig vinnig te hardloop."
Ander Suid-Afrikaners wat in Kingspark sal wegspring en klaarmaak, is Stephen Mokoka, Precious Mashele en Melikhaya Frans.
Die Keniaan Daniel Ebenyo, Neheng Khatala van Lesotho en Isaac Kibet van Uganda neem ook deel.
Die wedloop begin om 07:00.
• Die res van die wedlope in die reeks is: 14 Mei: Kaapstad; 9 Julie: Durban; 27 Augustus: Pretoria; 24 September: Johannesburg. - Sportredaksie





















