Glenrose blom in die Baai

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Glenrose Xaba wen Saterdagoggend die Spar Grand Prix 10 km-wedloop in Gqeberha. Foto: Gallo Images
Glenrose Xaba wen Saterdagoggend die Spar Grand Prix 10 km-wedloop in Gqeberha. Foto: Gallo Images

Glenrose Xaba het Saterdagoggend opnuut haar staal gewys deur die Spar Grand Prix 10 km-wedloop in Gqeberha in 'n blitsige 31 min. en 22 sek. in ideale weersomstandighede te wen.

Die 29-jarige Suid-Afrikaanse 10 km-rekordhouer van die Boxer-klub het daarin geslaag om die verwagte aanslag van die Ethiopiërs Diniya Abaraya (31:33) en driemalige en huidige Spar Grand Prix Reeks-titelhouer, Tadu Nare, (31:48) - albei van die Nedbank-klub - af te weer.

Abaraya (18) was die eerste junior oor die eindstreep oor die vinnige plat roete vanaf Marinerylaan, langs Pollokstrand.

Die oorwinning in die Baai was Xaba se derde sege in die reeks vanjaar nadat sy ook in Kaapstad en Pretoria met die louere weggestap het.

Nare het die wedloop in Durban gewen, maar het nie in Kaapstad deelgeneem nie. Die laaste wedloop in die reeks is op 6 Oktober in Johannesburg.

Met Xaba nou ver voor op die puntelys, beteken dit dat sy net vir die laaste wedloop moet opdaag.

Sy is nou die oorweldigende gunsteling om as die eerste Suid-Afrikaanse wenner van die reeks sedert 2019 gekroon te word.

Xaba was uiteraard agterna in haar noppies met haar vertoning.

"Ja, ek het vandag 'n baie goeie wedloop gehad. Ek was van plan om van meet af hard uit te gaan en tussen 31 en 32 minute te hardloop. Ek was baie bly oor die puik weerstoestande wat ons toegelaat het om baie goeie tye te hardloop," sê Xaba.

"Ek, Tadu en Diniya het van die begin van die wedloop hard gedruk en het tussen sowat 5 km en 6 km van die res weggebreek. Ek het aangehou en was binne bereik van my SA rekord (31:12), maar was tevrede dat ek met my tweede vinnigste tyd tot nog toe vorendag kon kom."

Die Pretorianer, wat deur die voormalige Olimpiese 800 m goue medalje-wenner Caster Semenya en die middelafstandatleet Violet Raseboya Semenya afgerig word, glo die reeks met die Ethiopiërs wat ook deelneem, motiveer die Suid-Afrikaanse langasems om hul bes te doen en na groter doelwitte te streef.

"Ja, dit spoor ons aan en stel ons ook in staat om na ons gesinne om te sien, om terug te gee aan ons gemeenskappe, en 'n bestaan uit hardloop te maak," voeg sy by.

Al het die 23-jarige Nare in die derde plek klaargemaak, was sy steeds gelukkig met haar vertoning aangesien sy verlede week die Mpumalanga-marathon gewen het.

"Om eerlik te wees was vandag een van die beste dae van my lewe in ag genome dat ek laas week 'n wedloop oor 42.2 km gewen het," sê Nare.

"In atletiek word daar van jou verwag om ten minste twee maande [ná 'n marathon] te wag voordat jy weer aan 'n wedloop deelneem. Die feit dat ek nog 'n 10 km in 'n week se tyd kon hol, is merkwaardig.

"Ek wou aanvanklik nie deelneem nie, maar my afrigter het my aangemoedig om te hardloop. Ek het nie verwag om in die topdrie te eindig nie.

"Ek is baie dankbaar en meer as gelukkig met die uitslag. Ek beskou dit nie dat ek die wedloop verloor het nie, maar dit voel eerder soos 'n oorwinning vir my."

Adnaan Mohamed

SPELETJIES VANDAG

CTA