Atletiek

Jamaika se Shericka Jackson blitsig oor 100 m

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Shericka Jackson het die 100 m vir vroue in Kingston in Jamaika in ’n tyd van 10.65 sek. afgeblits. Foto: Getty Images
Shericka Jackson het die 100 m vir vroue in Kingston in Jamaika in ’n tyd van 10.65 sek. afgeblits. Foto: Getty Images

Shericka Jackson van Jamaika het Vrydag in Kingston die 100 m in 10.65 sek. afgeblits om die gesamentlike vyfde vinnigste vrou van alle tye te word.

Jackson het haar tweede nasionale titel maklik gewen om haar plek by die Wêreld Atletiekkampioenskap, wat later vanjaar in Budapest gehou word, te bespreek.

Jackson, die huidige 200 m-wêreldkampioen, het blitsig weggespring om voor Shashalee Forbes (10.96) en Natasha Morrison (10.98) te eindig.

"Ek het verlede jaar gesê ek sukkel met my wegspring, maar ek dink ek het die probleem nou reggestel. Daar wag nóg werk saam met my afrigter (Paul Francis), maar dit het darem dié keer goed gewerk," het Jackson gesê.

Jackson se oefenmaat, die relatief onbekende 21-jarige Rohan Watson, het die 100 m vir mans in 'n tyd van 9.91 gewen.

• In Oregon het Sha'Carri Richardson die 100 m vir vroue by die Amerikaanse Kampioenskap in 'n tyd van 10.82 gewen.

Richardson is besig om weer haar reputasie te herbou nadat sy haar plek by die Tokio Olimpiese Spele verloor het omdat sy positief getoets is vir dagga.

Sy het Donderdag die afstand in 'n uitdunwedloop in 10.71 gewen en atletiekgeesdriftiges lek reeds hul lippe af vir haar tweestryd met Jackson in Budapest.

"Ek is geestelik, fisies en emosioneel reg. Ek is terug en ek is beter as ooit," het Richardson gesê. - Reuters

• Die vyf vinnigste vroue oor 100 m tot nog toe is: 1. Florence Griffith-Joyner (VSA) 10.49; 2. Elaine Thompson-Herah (Jam) 10.54; 3. Shelly-Ann Fraser-Pryce (Jam) 10.60; 4. Carmelita Jeter (VSA) 10.64; 5. Marion Jones (VSA) en Shericka Jackson (Jam) 10.65. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM