Atletiek

Kiplimo seëvier in Chicago-marathon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jacob Kiplimo vroeër vanjaar in die Londen-marathon.
Jacob Kiplimo vroeër vanjaar in die Londen-marathon. (Foto: Getty Images)

Uganda se Jacob Kiplimo het Sondag die Chicago-marathon in Amerika in ’n haastige tyd van 2 uur, 2 minute en 23 sekondes gewen.

Die 24-jarige het die Keniaan Amos Kipruto (2:03:43) met anderhalf minuut geklop nadat hy sake oor die laaste sowat 12 km dikteer het.

In ’n stadium was hy sterk op pad na ’n wêreldrekord. Die voorste atlete is in ’n haastige 60:16 oor die halfpadkerf en in 28:25 verby die 10 km-kerf.

Dit is Kiplimo, ’n voormalige Olimpiese bronsmedaljewenner in die 10 000, halfmarathon-wêreldrekordhouer (56:42) en die wêreldveldloopkampioen in 2023, se beste tyd van sy loopbaan en op ses na die vinnigste marathontyd tot nog toe. Sy vorige beste tyd was 2:03:37 en Sondag se marathon was slegs die tweede van sy loopbaan.

Kiplimo was vroeër vanjaar tweede in die Londen-marathon. Dit was sy eerste marathon.

Wyle Kelvin Kiptum van Kenia het in 2023 in die Chicago-marathon die wêreldrekord van 2:00:35 opgestel.

Die voorste vyf atlete Sondag het tye van vinniger as 2:05 gehardloop.

Die afdeling vir vroue is deur die Ethiopiër Hawi Feysa in die beste tyd (2:14:56) van haar loopbaan gewen.

Die Switser Marcel Hug (1:23:20) het die wedren vir rolstoelatlete die sesde keer gewen.

Daar was sowat 50 000 deelnemers aan dié sogenaamde major-marathon.

3878

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM