Mevrou Kwagga hardloop Sondagoggend haar tweede Comrades en het onder andere 'n Springbok en Blitsbok wat haar langs die langpad sal bystaan en aanmoedig.
Haar regte naam is Ilke Smith en sy is die vrou van die Springbok-rugbyspeler en Wêreldbeker-held Kwagga Smith.
Kwagga Smith en sy eertydse Blitsbok-spanmaat Werner Kok is deel van haar ondersteuningspan.
Die wedloop word oor 'n afstand van 85,91 km tussen die stadsaal van Durban en die Scottsville-perdewedrenbaan in Pietermaritzburg gehardloop.
Ek is so 'n bietjie op my senuwees, maar ek sien baie uit na die wedloop.
Ilke is net so haastig soos wat haar man en Kok - wat volgende seisoen die Haaie in Durban vir die Ierse span Ulster verruil - op die rugbyveld is.
Sy het verlede jaar in haar debuut 'n spogtyd van 7 uur en 55 minute gehardloop.

"Ek is so 'n bietjie op my senuwees, maar ek sien baie uit na die wedloop," het Ilke Vrydag gesê terwyl sy en Kwagga nog van Dullstroom in Mpumalanga waar hulle woon, op pad was Durban toe. Ek het verlede jaar voor my eerste Comrades (die af-wedloop Durban toe) nie 'n tyd in gedagte gehad wat ek wou hardloop nie. In my agterkop wou ek 'n Bill Rowan-medalje (vir 'n tyd van tussen 7:30 en 8:59) kry, maar het nie geweet hoe dit sou gaan nie. Op die dag het dinge baie goed verloop en ek het binne die Bill Rowan-afsnytyd klaargemaak."
Sy en Kwagga is albei oudleeringe van die Hoër Tegniese Skool Middelburg waar Deon Holtzhausen, 'n vyfmalige Comrades-gouemedaljewenner, skoolgehou het.
Ilke sê sy het verlede jaar in Japan, waar Kwagga deesdae sy klubrugby speel, haar eerste marathon gehardloop.
"Dit was die Nagoya-marathon waaraan net vroue deelneem. Daar was 20 000 vroue wat deelgeneem het. Daarna het ek my eerste ultrawedloop (die Loskop-wedloop oor 50 km tussen Middelburg en die Loskopdam) gehardloop en toe ook my eerste Comrades. Dit was een van daardie jare wat 'n mens vir jouself sê: Dis nou of nooit."
Verlede jaar het ek so 1 000 km van Januarie af gehardloop, maar vanjaar so 780 km.
Ilke sê sy wil Sondag probeer om 'n tweede Bill Rowan-medalje los te hardloop.
Holtzhausen was ná verlede jaar se Comrades vol lof vir Ilke.
"7:55 is 'n ongelooflike tyd vir 'n nuweling," het hy gesê.
Ilke het vanjaar minder as die vorige jaar geoefen.
"Verlede jaar het ek so 1 000 km van Januarie af gehardloop, maar vanjaar so 780 km."

Wat wel 'n verskil kan maak, is dat sy dit hoofsaaklik in Dullstroom, wat hoog bo seevlak is, gedoen het. Baie topatlete oefen in die omgewing van dié platoranddorp omdat die dun lug daar die liggaam help om meer rooibloedselle te vervaardig. Met 'n wedloop soos Sondag se Comrades help dié rooibloedselle om die suurstof deur die atleet se liggaam te versprei.
"Ek hoop maar dit help," sê Ilke.
"Ek het meestal in Dullstroom geoefen omdat Kwagga beseer was en ons teruggekom het huis toe. Kwagga moet Sondagaand terugvlieg om hom by die Springbokke se oefenkamp (in Pretoria) aan te sluit."





















