Atletiek

Simbine bult spiere met blitstyd in Botswana

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika se Akani Simbine op pad om Kenia se Ferdinand Omanyala te klop in die 100 m op die Botswana Grand Prix in Gaborone. Foto: Instagram | @worldathletics
Suid-Afrika se Akani Simbine op pad om Kenia se Ferdinand Omanyala te klop in die 100 m op die Botswana Grand Prix in Gaborone. Foto: Instagram | @worldathletics

Akani Simbine het Saterdag in Gaborone, Botswana, in sy eerste 100 m-wedloop van die seisoen sy krag gewys, terwyl sowel Sinesipho Dambile en Zakithi Nene vir vanjaar se Wêreldkampioenskapsbyeenkoms gekwalifiseer het.

Simbine, wat verlede maand 'n bronsmedalje op die Binnenshuise Wêreldbyeenkoms in China verower het, het in die Botswana Grand Prix voortgebou op daardie momentum en die vinnigste tyd tot dusver in 2025 in sy voorkeurnommer aangeteken.

Die 31-jarige atleet het in 9.90 sekondes geseëvier en daarmee ook met die Keniaanse Afrika-rekordhouer, Ferdinand Omanyala, afgereken.

Simbine, self 'n voormalige Afrika-rekordhouer, sal breed glimlag oor dié vroeë waarskuwingskoot.

Met sy haastige tyd het hy nog 'n plaaslike spoedvraat, die tienersensasie Bayanda Walaza, se 9.99 sekondes, wat tot en met Saterdag die voorste plek op die wêreldranglys beklee het, oortref.

Dié twee Suid-Afrikaners is tot dusver die enigste atlete ter wêreld wat al vanjaar deur die grens van 10 sekondes in die 100 m kon breek.

Simbine se tyd is boonop vermag met 'n wind van voor van -1.4 m/s.

Omanyala moes in dié lopie met die tweede plek tevrede wees in 10.00 sekondes, terwyl Retshidisitswe Mlenga, voormalige o. 18-wêreldkampioen oor 200 m en ook 'n Suid-Afrikaner, derde was in 10.15.

In die ander 100 m-wedloop het Suid-Afrika ook met die louere weggeloop toe Abduraghmaan Karriem in 10.07 die pyp gerook het.

Daar was boonop ook rede tot opgewondenheid in die 200 m en 400 m.

In die 200 m kon Dambile hom by Walaza aansluit as net die tweede Suid-Afrikaner wat kwalifiseer vir die mans se 200 m op die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms, wat in September in Tokio plaasvind.

Dambile het in sy wedloop in 20.01 geskitter, en gemaklik binne Wêreldatletiek se vereiste kwalifiseringstyd van 20.16 geëindig.

Die Botswana-blits Letsile Tebogo. Foto: Getty Images
Die Botswana-blits Letsile Tebogo. Foto: Getty Images

Nog 'n pluimpie vir hom is dat sy tyd vinniger was as dié van Botswana se Olimpiese kampioen, Letsile Tebogo, wat in die ander 200 m-resies in 20.23 die botoon gevoer het.

Dambile is boonop nie die enigste Suid-Afrikaner wat die kwalifiseringsvereistes vir die Tokio-skouspel kon haal nie.

In die 400 m het Nene ook so gemaak toe hy tweede was in 44.68. Hoewel hy deur Botswana se Bayapo Ndori (44.35) geklop is, was Nene se tyd steeds beter as die verlangde 44.85 om outomaties te kwalifiseer.

Die voormalige Olimpiese en wêreldkampioen Dalilah Muhammad van die VSA het die vroue se 400 m-hekkies gemaklik in 53.81 beklink. Haar landgenoot Cassandra Tate was naasbeste met 'n tyd van 55.59, terwyl Suid-Afrika se Zenéy Geldenhuys derde geëindig het in 56.10 sekondes.

In die vroue se 400 m het Egipte se Bassant Hemida (50.77) uitgetroon, met Miranda Coetzee (51.10) en Shirley Nekhubui (51.28) onderskeidelik tweede en derde.

In die vroue se 100 m moes 'n wenpaalfoto bestudeer word om die wenner te bepaal.

Hanna Vermaak en Viwe Jingqi is albei 'n tyd van 11.44 toegeken, met Vermaak wat uiteindelik as die wenner aangewys is.

Die Suid-Afrikaans gebore gewigstoter Zane Weir, wat in die kleure van Italië deelneem, het goud gevat met sy beste poging van 20,83 m, terwyl sy Italiaanse spanmaat Leonardo Fabbri silwer gewen het met 20,64 m, en Suid-Afrika se Kayle Blignaut brons met 'n beste gooi van 20,32 m.

- wim.pretorius@24.com

CTA