Dit was 'n jaareindvergadering by sy atletiekklub, Entsika, wat Givemore Mudzinganyama aangespoor het om Saterdag die Twee Oseane-ultramarathon in Kaapstad aan te durf en eindelik te wen.
Die gebore Zimbabwiër, wat tans woonagtig in Johannesburg is, was die eerste persoon om die eindstreep te haal toe hy die veeleisende ultramarathon in 3 ure, 9 minute en 56 sekondes voltooi het.
Hy word deur die legendariese Suid-Afrikaanse Olimpiese marathon-atleet, Hendrick Ramaala, afgerig.
Ramaala is self 'n voormalige wenner van die New York-marathon.
Dit was boonop sy buiging in die ultramarathon met Mudzinganyama wat in 2015 'n 12de plek in die Twee Oseane-halfmarathon behaal het en in 2018 tweede in die veldwedloop hier geëindig het.
"Ons klub, Entsika, het in November 'n jaareindvergadering gehad, waar die bestuurder se woorde my aangeraak het. Hy het gesê ‘Om een Groot Vis per jaar te wen, is goed vir jou hardloopbaan en om 'n bestaan te maak," het Mudzinganyama agterna gesê.
"Dit is beter om een groot wedloop in 'n jaar te wen as om 'n 10 km of 'n 21 km te doen en net met R2 000 weg te stap. Hierdie was my Groot Vis van die jaar."
Die prysgeld van R250 000 wat hy in sy sak steek vir dié oorwinning het sonder twyfel sy besluit geregverdig.
Mudzinganyama, wat teen 'n gemiddelde pas van 3:24 per kilometer gehardloop het, moes sterk kopwinde van voor trotseer oor die eerste helfte van die wedloop en kon deurlopend homself onder die voorlopers hou, voordat hy eindelik weggebreek het om met 22 sekondes te wen.
"Dit was lekker om vandag deel te neem.
"Ek het deurlopend gedink aan hoe ek myself in 'n goeie posisie kan plaas en 'n goeie tyd kan hardloop. Ons het in Januarie begin oefen en mekaar gedruk sodat ek gereed kan wees vir die Twee Oseane-wedloop. Ons het 'n wedloop in Botswana gehad wat as voorbereiding gedien het en dit het goed verloop.
"Ek is so bly dat ek wel gekom het en dat my liggaam my toegelaat het om alles in die stryd te werp. Ek is só gelukkig."
Mudzinganyama sê verder dat enige persoon wat een van die Twee Oseane-ultramarathon, die Comrades-ultramarathon, die Soweto-marathon, of die Kaapstad-marathon kan wen, iemand is om van kennis te neem.
"As jy in enige een van hulle goed kan doen, dan wys dit jy is 'n goeie atleet."
Dan Matshailwe Moselekwa (Nedbank) was naasbeste in 3:10:19, terwyl Nkosikhona Mahlakwana (Hollywood) op sy hakke was vir sy derde plek in 3:10:40.





















