Ethiopië se Yalemzerf Yehualaw, die wêreldrekordhouer oor 10 km, kan Sondag in die Run Your City-wedloop in Durban ook dié wêreldrekord oor dié afstand in 'n wedloop waar vroue afsonderlik van die mans hardloop, oortref.
Die wêreldrekord wat sy hou, het sy opgestel in 'n wedloop waaraan mans en vroue saam weggespring het. Dié rekord is 29 minute en 14 sekondes.
Die rekord wat sy Sondag sal probeer verbeter, is 30:01.
Die SA Ope-rekord is 30:40 en word deur Uganda se Stella Chesang gehou.
Verskeie ander topatlete sal ook in Durban deelneem.
Yehualaw het verlede jaar die Londen-marathon gewen.
In Durban sal die elite-vroue eerste wegspring sodat Yehualaw 'n aanslag op die wêreldrekord kan loods. Die elite-mans en res van die deelnemers wat ingeskryf het, sal eers later volg.
Onder die mans spog Suid-Afrika se Precious Mashele (27:35) met die beste tyd.





















