Gholf

Åberg neem voortou in VSA-Ope

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Sweed Ludvig Åberg is die voorloper ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images
Die Sweed Ludvig Åberg is die voorloper ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images

Die Sweedse gholfspeler Ludvig Åberg is die voorloper ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope, maar vir Scottie Scheffler, wat die voorste plek op die Wêreldranglys beklee, het dinge nie Vrydag skeepsreg verloop nie.

Die 24-jarige Åberg het 69, een hou minder as baansyfer, Vrydag ná afloop van die tweede ronde op sy telkaart in Pinehurst in Noord-Carolina ingevul. Hy is nou op 135, een hou voor die Amerikaner Bryson DeChambeau, die Belg Thomas Detry en nog 'n Amerikaner, Patrick Cantlay.

"Ek het die bal lekker getref. Uit die aard van die saak was dit baie uitdagend en dit is nie 'n maklike gholfbaan om op te speel nie," het Åberg gesê.

Rory McIlroy van Noord-Ierland, 'n viermalige major-kampioen, het die tweede ronde in 72 houe voltooi. Hy is nou op 137 saam met die Amerikaner Tony Finau en die Fransman Matthieu Pavon.

Scheffler, wat vooraf as die gunsteling beskou is, is op 145 nadat hy die tweede ronde slegs in 74 houe voltooi het.

Christiaan Bezuidenhout (143) en Dean Burmester (145) van Suid-Afrika het albei die tweede ronde in 71 houe voltooi.

• Daar was min vreugde vir die Amerikaner Tiger Woods, 'n 15-malige major-wenner, Vrydag aangesien hy nie die afsnypunt oorleef het nie.

Die 38-jarige Woods het die eerste ronde in 74 en die tweede ronde in 73 houe voltooi. Hy sê dit is "frustrerend" dat sy deelname aan die Amerikaanse Ope kortgeknip is.

Benewens Woods, het Viktor Hovland, wat die vyfde plek op die Wêreldranglys beklee, en Max Homa, wat in die tiende plek is, onder meer ook nie die afsnypunt oorleef nie.

• Die Suid-Afrikaners Erik van Rooyen (148) en Casey Jarvis (151) se deelname is ook kortgeknip. - AFP; Sportredaksie

VOLLEDIGE UITSLAE

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM