Die 19-jarige Chinese gholfsensasie Wenyi Ding het bevestig hy gaan volgende maand by Sun City in die Nedbank-uitdaagtoernooi speel.
Ding het 'n paar maande gelede 'n beroepspeler geword, maar hy word reeds as een van die toekomstige sterre van die spel bestempel.
Die Nedbank-uitdaagtoernooi vind van 5 tot 8 Desember op die baan van die Gary Player-buiteklub plaas.
Ding het in 2022 die eerste Chinese speler geword wat 'n toernooi van die Amerikaanse Gholfvereniging (USGA) kon wen toe hy met dié land se junior amateurtitel weggestap het.
Van Suid-Afrika se voorste jong spelers soos Christo Lamprecht en Aldrich Potgieter sal ook in "Afrika se major" in aksie wees.
Die verdedigende Nedbank-kampioen, Max Homa, keer terug om sy titel te verdedig, terwyl ander spelers soos die Kanadees Corey Conners, Will Zalatoris (VSA) en Denemarke se Hojgaard-broers, Nicolai en Rasmus, ook in aksie sal wees.
Thriston Lawrence, Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen sal aan die spits van die Suid-Afrikaanse aanslag wees. - Sportredaksie





















