Gholf

Burmester het groter 2026-doelwitte

Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het verlede jaar die LIV-reeks se toernooi in Chicago gewen.
LIV Golf Team Championship Michigan - Day Three Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het verlede jaar die LIV-reeks se toernooi in Chicago gewen. (Michael Miller/ISI Photos/Foto: Getty Images)

Die LIV-reeks is sedert sy debuutjaar in 2022 dikwels as partytjie- of feesgholf bestempel. Spelers word glo ook nie aan soveel druk soos dié in die Amerikaanse PGA- of die Europese DP World-reeks blootgestel nie.

“Dit is absolute snert, man. Gholf is gholf,” sê Dean Burmester, ’n lid van die Suid-Afrikaanse GC-span, oor dié beskouings.

“Ek speel op die 18de putjie van Doral (die Trump National-baan in Miami) teen Sergio Garcia en jy wil vir sê daar is nie druk nie?

“Ek het verlede jaar (in Chicago) in ’n uitspeelstryd ook teen Jon Rahm gespeel en glo my, ek het die druk gevoel.

“Daardie stories kom in groot mate vanweë ons toernooie wat oor drie rondes gespeel is, maar noudat LIV ook na vier rondes toe beweeg het, sal daardie wanopvattings hopelik verander,” sê Burmester.

Dié oud-Bloemfonteiner het in 2025 sy beste seisoen nog in die LIV-reeks beleef.

Hy het in 2023 17de op dié reeks se individuele puntelys geëindig, in 2024 sewende en verlede jaar vyfde.

Burmester het in die proses sy bankbalans met $11,7 miljoen (sowat R205 miljoen) aangevul.

“Ek was baie tevrede met my seisoen. Ek het in die middel van die jaar ’n bietjie selfvertroue verloor, maar ek het aan die einde weer goed gespeel. Ek probeer bestendig wees en elke naweek onder die voorlopers te wees. Ek besef jy kan nie altyd wen nie, maar dit is voor elke toernooi my mikpunt.”

Hy wil sy naam vanjaar in die top-drie van die LIV-reeks vestig en ook sy stempel op die major-verhoog afdruk sou dit hom beskore wees.

“Ek het nie in 2025 goed gevaar in die majors nie (hy het in die PGA-kampioenskap en Britse Ope gespeel), so as ek vanjaar dalk die kans kry, wil ek dit behoorlik benut.”

LIV Golf se spelers word steeds nie vir wêreldranglyspunte in ag geneem nie en Burmester sê dit sal slegs ’n bonus wees as dit verander.

Dean Burmester in Desember op Royal Johannesburg se Oosbaan in aksie in die Dunhill-kampioenskap.
Alfred Dunhill Championship 2026 - Day One Dean Burmester in Desember op Royal Johannesburg se Oosbaan in aksie in die Dunhill-kampioenskap. (Luke Walker/Foto: Gallo Images)

“Ons het almal geweet wat die gevolge van ons besluit (om by die LIV-reeks aan te sluit) sal wees.

“Daar is twee kante van die muntstuk. Ek is finansieel baie beter daaraan toe en ek kry meer tyd om saam met my gesin deur te bring.

“Aan die ander kant sal ’n ou altyd wonder wat kon gebeur het as ek in meer major-toernooie gespeel het.

“Ek was egter nog nooit spyt dat ek by LIV aangesluit het nie. Dit is hengse voorreg om ’n lid van die Stingers te wees en weekliks saam met goeie vriende te speel, veral vanjaar met ’n toernooi wat vir die eerste keer in Suid-Afrika gaan plaasvind. Dit gaan geweldig baie vir plaaslike gholf beteken en dit is veel groter as my eie aspirasies.”

Die LIV-reeks se geskiedkundige toernooi in Suid-Afrika word van 19 tot 22 Maart in Midrand by Steyn City gespeel.

“Dit gaan fantasties wees om die Suid-Afrikaanse vlag voor ons eie mense te verteenwoordig. Dit sal ’n groot viering vir Suid-Afrikaanse gholf wees met so baie topspelers wat op tuisbodem in aksie gaan wees,” sê Burmester.

3878