Gholf

Burns 1 van net 2 wat Oakmont se baansyfer troef

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sam Burns van Amerika onderweg na sy ronde van 65, wat hom die voorloper ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope maak. Foto: Getty Images
Sam Burns van Amerika onderweg na sy ronde van 65, wat hom die voorloper ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope maak. Foto: Getty Images

Die Amerikaner Sam Burns is die voorloper by die halfpadmerk van die Amerikaanse Ope-gholfmajor, nadat hy die taai baan van die Oakmont-buiteklub in die tweede ronde met 'n 65 getem het.

Hy is met sy totaal op 137 een hou voor die voorloper ná die eerste ronde, JJ Spaun, wat gesukkel het Vrydag en vir 'n 72 op sy telkaart moes teken.

Die enigste ander speler wat gister die "monsterbaan" in die deelstaat Pennsilvanië kon baasraak, was die Noorweër Viktor Hovland, wat ná sy ronde van 68 nou 'n hou agter Spaun in die derde plek is.

Die geluk was boonop aan Hovland se kant nadat hy op die 17de van agter die setperk die bal met 'n kaphou in die blikkie laat beland het, vir 'n arend twee op die syfer 4.

Verskeie topspeler op die wêreldranglys het weer gesukkel - Scottie Scheffler, die nr. 1 ter wêreld, is op 144, vier swakker as die baansyfer ná rondes van 73 en 71. Die Ier Rory McIlroy het Vrydag sy 74 met 'n 72 opgevolg en is 9 houe agter die voorloper.

Hy het darem die afsnypunt oorleef.

Dieselfde kan nie vir sterre soos Cameron Smith, Dustin Johnson, Bryson DeChambeau en Justin Thomas gesê word nie.

Suid-Afrika se hoop is in die hande van Thriston Lawrence, wat een hou agter Spaun was ná die eerste ronde, maar gister effens uitgesak het.

Hy was op die 17de putjie, reg om te set, toe spel weens naderende weerlig vir die dag gestaak is. Dertien spelers moet Saterdagoggend nog hul tweede ronde voltooi.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence het effens uitgesak in die tweede ronde van die Ope, maar is steeds binne trefafstand van die voorloper. Foto: Getty Images
Suid-Afrika se Thriston Lawrence het effens uitgesak in die tweede ronde van die Ope, maar is steeds binne trefafstand van die voorloper. Foto: Getty Images

Sou Lawrence vanoggend die kort sethou inrol, sal hy op die 18de aantree met sy telling op vier houe swakker as die baansyfer vir die tweede ronde.

Hy is dus nog binne trefafstand van Burns en kie.

Christiaan Bezuidenhout se rondes van 72 en 71 plaas hom op 143 in die gesamentlike 12de plek voor Saterdag se derde ronde.

"Ek was reg om die sethou te slaan, toe lui die sirene," het Lawrence ná sy kortgeknipte ronde gesê.

"Dis 'n bietjie frustrerend en onderbreek 'n ou se ritme, maar dis die plaaslike reëls en ons moet almal daarby inval." - Reuters

CTA