Die Argentyn Angel Cabrera het Sondag die seldsame prestasie van twee major-gholftitels in die bestek van ses dae behaal toe hy die PGA-kampioenskap vir seniors in Bethesda, Maryland, gewen het.
Hy het verlede Maandag ook in die Regions Tradition-toernooi, een van die vyf majors in senior gholf, geseëvier.
Cabrera het Sondag op die baan van die Congressional-buiteklub weer só gemaak toe sy telling van 69 (-3) hom op 280 - agt houe beter as baansyfer - laat eindig het.
Hy het die Ier Pádraig Harrington en Thomas Bjørn van Denemarke met een hou geklop.
Cabrera het sy loopbaan vroeër vanjaar hervat nadat hy in Augustus 2023 uit die tronk vrygelaat is. Hy is in 2021 op aanklagte van aanranding en gesinsgeweld skuldig bevind.
"Ek is baie gelukkig om twee toernooie agtereenvolgens te kon wen. Dit was my derde sege die afgelope jaar. Ek is baie dankbaar ná alles wat gebeur het," het Cabrera gesê.
Die 56-jarige Retief Goosen (68) was gesamentlik vierde en Darren Fichardt (73) het die agtste plek met Søren Kjeldsen en Vijay Singh gedeel.

• Die Noorweër Kristoffer Reitan het sy eerste wentjek in die DP World-reeks verdien toe hy Sondag die Rinkven International-baan in België se baanrekord verbeter het.
Reitan het die vierde ronde van die Soudal-Ope 'n hele nege houe agter die oornagvoorloper, Ewen Ferguson, begin, maar sy puik rondte van 62 het meegebring dat hy Ferguson en die Nederlander Darius van Driel later die dag in 'n uitspeelstryd gepak het.
Al drie het die eerste uitspeelputjie gelyk aan syfer gespeel, maar Reitan het met die tweede probeerslag op die 18de 'n deurslaggewende voëltjie behaal.
Dit was 'n merkwaardige sege vir Reitan wat vroeër die dag in die 23ste plek afgeslaan het.
Die Pretorianer Thriston Lawrence (66, 71, 70 en 67) was gesamentlik vierde.
• Ben Griffin van Amerika het die Sondag sy tweede PGA-titel verower toe hy die Duitser Matti Schmid met een hou in die Charles Schwab-uitdaagtoernooi uitoorlê het.
Griffin het die toernooi met 'n 71 afgesluit vir 'n toernooitelling van 268 - 12 houe beter as die Colonial-buiteklub se baansyfer.
Dít volg nadat hy onlangs die Zurich Classic of New Orleans-toernooi saam met Andrew Novak gewen het.
Die jong Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter het rondtes van 68, 68, 69 en 68 gespeel, wat hom saam sesde laat eindig het - vyf houe agter Griffin.
• Kieran Vincent van Zimbabwe het Sondag met die louere in Waterfall City se Toernooi van Kampioene by Royal Johannesburg weggestap.
Dit was Vincent se tweede sege in die Sonskynreeks. Hy het Daniel van Tonder met vier houe geklop. - Reuters, pgatour.com, europeantour.com, Vlismas Media












