Gholf

DeChambeau blaas in Rose se nek op Augusta

Justin Rose van Engeland loop steeds voor in die Meesterstoernooi op Augusta, maar sy voorsprong het na een hou in die tweede ronde gekrimp.Foto: Getty Images
Justin Rose van Engeland loop steeds voor in die Meesterstoernooi op Augusta, maar sy voorsprong het na een hou in die tweede ronde gekrimp.Foto: Getty Images

Justin Rose loop steeds voor in die tweede ronde van die Meesterstoernooi, maar die Yank Bryson DeChambeau blaas in sy nek op die Augusta-gholfbaan.

Rose het Vrydag sy 65 in die eerste ronde met 'n heel skaflike 71 opgevolg vir 'n toernooi-telling van 136 - agt houe beter as baansyfer.

Hy het met 'n voorsprong van drie houe afgeslaan, maar DeChambeau was, danksy vier voëltjies oor sy eerste nege putjies, een hou terug toe hy op die 14de bof aangekom het.

Die Koreaan Sungjae Im, wat nog vier putjies in die tweede ronde moet voltooi, is in die derde plek - twee houe agter Rose.

Rory McIlroy is self goed op dreef en het reeds drie voëltjies en 'n arend op die syfer-5- 13de putjie ingesamel om sy telling na vyf houe minder as baansyfer vir die toernooi te voer.

Dit lyk of nie een van die drie Suid-Afrikaners, Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence, die afsnypunt gaan oorleef nie.

Schwartzel (72 in die tweede ronde) is net-net aan die verkeerde kant van die afsnykerf van een hou swakker as baansyfer, terwyl Bezuidenhout (75) en Lawrence (76) nie oor die naweek in aksie sal wees nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM