Gholf

DeChambeau neem voortou in Amerikaanse Ope

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bryson DeChambeau het die voortou geneem in die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images
Bryson DeChambeau het die voortou geneem in die Amerikaanse Ope. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse gholfspeler Bryson DeChambeau het 'n voorsprong van drie houe ná afloop van die derde ronde van die Amerikaanse Ope in Pinehurst in Noord-Carolina.

Dié 30-jarige, wat in 2020 die Amerikaanse Ope gewen het, het Saterdag 67 op sy telkaart ingevul ná die derde ronde - hy is nou op 203 nadat hy in die eerste twee rondes onderskeidelik 67 en 69 aangeteken het.

Matthieu Pavon van Frankryk het die derde ronde in 69 houe voltooi, wat hom saam met Rory McIlroy van Noord-Ierland en die Amerikaner Patrick Cantlay almal drie houe agter DeChambeau plaas.

Vir die Sweed Ludvig Åberg was Saterdag nie 'n goeie dag nie. Hy was die voorloper ná afloop van die tweede ronde, maar het 73 houe nodig gehad om die derde ronde te voltooi. Dit beteken dat hy nou op 208 is, dieselfde as Hideki Matsuyama van Japan.

Die 31-jarige Pavon sal probeer om die eerste Fransman in meer as 'n 100 jaar te word om 'n major te wen. Die enigste ander speler van Frankryk wat die prestasie kon vermag, was Arnaud Massy toe hy die Britse Ope in 1907 gewen het.

Scottie Scheffler, wat die voorste plek op die Wêreldranglys beklee, het die derde ronde in 71 houe voltooi. Hy is nou op 216 - 13 houe agter DeChambeau.

Scheffler sê Saterdag was "nog 'n frustrerende dag. Ek dink ek het baie beter gespeel as wat my telling wys."

• Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout is op 215 nadat hy die derde ronde in 72 houe voltooi het. Sy landgenoot Dean Burmester, wat 76 houe nodig gehad het om die derde ronde te voltooi, is op 221. - AFP; Sportredaksie

VOLLEDIGE UITSLAE

https://www.usopen.com/2024/scoring.html

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM