Gholf

DeChambeau neem voortou in Meesterstoernooi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bryson DeChambeau hou sy bofhou dop by die 12de putjie tydens die Amerikaanse Meesterstoernooi op die Augusta National-baan.  Foto: AP
Bryson DeChambeau hou sy bofhou dop by die 12de putjie tydens die Amerikaanse Meesterstoernooi op die Augusta National-baan. Foto: AP

LIV Golf se Bryson DeChambeau het Donderdag 'n vuurwarm sarsie voëltjies laat in die dag se spel gebruik om 'n voorsprong van een hou bo Scottie Scheffler te bewerkstellig terwyl die Spanjaard Jon Rahm se verdediging van sy Meesters-kroon 'n wankelrige begin gehad het.

Nadat 'n storm die begin van die jaar se eerste major met meer as twee uur vertraag het, het 2020 se Amerikaanse Ope-kampioen, DeChambeau, gefloreer in die sagte reën en winderige toestande en agt voëltjies met een brouhou gemeng om op sewe houe beter as die baansyfer van 72 te eindig.

Weens die laat begin was daar 27 gholfspelers wat nog hul openingsrondes moes voltooi voordat spel weens swak lig opgeskort is, insluitend die Meesters-debutant Nicolai Hojgaard van Denemarke wat twee houe agter DeChambeau was met drie putjies oor om te speel.

DeChambeau, wat in 2020 die wenkbroue laat lig het toe hy gesê het dat die baansyfer-72-uitleg van die Augusta National-baan vir hom meer soos 'n baansyfer-67 gespeel het, het 'n vinnige begin geniet toe hy met drie agtereenvolgende voëltjie-houe geopen het.

"Ek het 'n mate van respek vir hierdie gholfbaan wat 'n bietjie anders is as 'n paar jaar gelede, en vandag was duidelik 'n groot toets van gholf, en ek kon die oorhand op 'n baie moeilike baan kry," het DeChambeau, een van 13 LIV-spelers in die toernooi, agterna gesê.

"Oor daardie 67-opmerking, jy weet, soms maak jy droog. Ek is nie 'n perfekte persoon nie. Almal maak droog. Jy leer uit jou foute en dit was definitief een van hulle."

Die wêreldnommereen en vooraf-gunsteling Scheffler, wat in 'n hoëprofiel-groep gespeel het saam met Rory McIlroy, wat 'n Grand Slam in sy visier het, en die Olimpiese kampioen Xander Schauffele, het ook 'n laat aanslag van voëltjies vermag om 'n brouhou-vrye ses onder baansyfer op sy telkaart aan te teken.

Scheffler, 2022 se Meesters-kampioen, was twee onder ná 11 putjies, maar het daarna met vier voëltjies oor sy volgende vyf putjies losgetrek om binne 'n enkele hou van DeChambeau te kom.

McIlroy, wat die afsnypunt in verlede jaar se Meesterstoernooi misgeloop het en sy tiende poging aanwend om 'n loopbaan-Grand Slam van gholf se vier majors te voltooi, het met 'n 71 geopen terwyl die wêreldnommervyf, Schauffele, 72 aangeteken het.

In die klubhuis alleen in die derde plek was 2016 se Meesters-kampioen, Danny Willett, wat sy eerste begin maak sedert hy in September 'n skoueroperasie ondergaan het en eers Sondag besluit het dat hy vandeesweek gaan speel.

Die 36-jarige Engelsman was in 'n stadium drie houe beter as die baansyfer, maar twee brouhoue oor sy volgende vyf putjies het hom ietwat gepootjie, totdat hy voëltjies by drie van die laaste vier putjies gekry het.

Rahm, wat sal poog om die vierde gholfspeler te word wat sy titel suksesvol verdedig, het die dag se spel op 73 afgesluit, een meer as baansyfer.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het eindelik die dag op een hou beter as baansyfer afgesluit terwyl die amateur Christo Lamprecht en Charl Schwartzel, die Meesters-kampioen in 2011, albei twee houe aan baansyfer afgestaan het. - Reuters, Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM