Scottie Scheffler, voorste gholfspeler op die planeet, sê hy is uitgerus en oorgehaal om sy aanslag in die PGA-reeks op 'n hoë noot af te sluit.
Hy speel van Donderdag af in Memphis in die St. Jude-kampioenskapstoernoi nadat hy verlede maand die Britse Ope op Royal Portrush in Noord-Ierland gewen het.
"Ek het besluit om 'n paar ekstra dae te vat om die batterye te herlaai," sê Scheffler, wat ook in Mei in die PGA-toernooi geseëvier het.
"Dit vat baie uit jou om in die major-toernooie te speel, so dit was lekker om by die huis te wees en dinge rustig te vat."
Scheffler se triomf op Royal Portrush was sy vierde major-titel.
Hy het dié sege met 'n groot partytjie by sy huis gevier waar hy vriende toegelaat het om 'n knerts uit die Claret Jug te drink.
Scheffler is ook met dié gesogte trofee na sy tuisbaan, Royal Oaks in Dallas, Texas.
Hy gee toe sy voorbereiding vir die St. Jude-kampioenskap kon beter gewees het, maar sê dit beteken nie hy het nie sy visier op die FedExbeker-kroon, wat hy in 2024 verower het, nie.
"Om in dié stadium van die jaar harder te oefen, gaan my dreineer en dis iets wat ek oor die jare heen in my loopbaan geleer het.
"Ek is op 'n goeie plek met my gholf en om nou harder te oefen, gaan nadelig vir my wees in terme van fisieke en sielkundige moegheid."
Scheffler is in die eerste plek op die FedExbeker-puntelys en die voorste 70 spelers is in die St. Jude-toernooi in aksie.
Ná Sondag se vierde ronde sal die voorste 50 spelers op dié puntelys vir die volgende uitspeeltoernooi, die BMW-kampioenskap in Maryland, kwalifiseer.
Later vandeesmaand sal die top-30 in die eindtoernooi - die Toerkampioenskapstoernooi in Atlanta - speel.

Rory McIlroy, Meesters-kampioen, het besluit om nie in die eerste van dié drie toernooie te speel nie.
Hy is tweede op die puntelys en sal vir die BMW-kampioenskap kwalifiseer, al speel hy nie die naweek nie.
Dit was te wagte, met McIlroy wat nog 'n besige jaar voor hom het.
Ná afloop van die Toerkampioenskapstoernooi speel hy in die Europese DP World-reeks se Ierse Ope en die BMW PGA voordat hy Europa einde September in die Ryderbeker-toernooi verteenwoordig.
Hy sluit die jaar met sy deelname aan toernooie in Indië en Australië af.




















