Sy vertoning vanjaar by Royal Troon sal bepaal wanneer Ernie Els ná 'n roemryke verbintenis van meer as drie dekades van die Britse Ope gaan afskeid neem.
"Ek sal kyk hoe dit vanjaar by Troon gaan. As ek die afsnypunt haal en goed speel, sal ek dalk nog in 'n Ope of twee meeding.

"Ek sou daarvan gehou het om klaar te maak by Royal Lytham, waar ek die Ope in 2012 gewen het, maar ek weet nie wanneer die baan weer die gasheer gaan wees nie," het die Big Easy in 'n onderhoud uit die VSA aan Netwerk24 gesê.
Els, 'n tweemalige wenner van die Claret Jug, het in 1989 sy Ope-debuut by Troon gemaak en sedert 1992 nie 'n enkele toernooi misgeloop nie (vanweë die Covid-19-pandemie is 'n Ope nie in 2020 gehou nie).
Die ouderdom kom met sy fisieke uitdagings en Els gee toe op 54 sukkel hy om mee te ding in dié toernooi.
"Dit het nie verlede jaar by Hoylake so goed met my in die reën en wind gegaan nie.
"Ek sal graag ten minste die afsnypunt wil oorleef en voel ek dra iets by tot die toernooi.
Ek was 42 toe ek my laaste major gewen het en dit is nou 12 jaar later.
"In Oktober word ek 55 en ek besef die Ope-uurglas begin vir my leeg loop."
Benewens dat hy vanjaar in die Amerikaanse Kampioene-reeks weer 'n toernooi of twee wil wen, wil hy ook na sy welstand omsien.
"Ek het verlede jaar gesukkel met my laerug, wat my opgekeil het.
"Dit is iets waaraan ek hard werk en ek is opgewonde oor die jaar. As ek my heupe en skouers ten volle kan draai deur my swaai, slaan ek die bal baie goed.
"My kortspel is skerp, hoewel my setwerk nie so bestendig is soos wat ek wil hê nie.
Ek is al amper 55 en ons opkomende sterre het al van my vergeet.
"Ek wil weer probeer wen, want ek het nog net drie toernooie in die Kampioene-reeks gewen.
"Die plan is dat ek vanjaar in so 20 tot 22 toernooie sal speel.
"Die lekker ding van die Kampioene-reeks (vir spelers ouer as 50) is dat die toernooie oor drie rondes is en alles in die VSA gespeel word.
"Ons bly in Florida, so ek kan in al die toernooie speel en Sondagaande in my eie bed slaap, wat lekker is."
Els sê dit is 'n bekommernis dat hy Suid-Afrika se laaste major-wenner in 2012 was.

"Ek was 42 toe ek my laaste major gewen het en dit is nou 12 jaar later. Ek weet nie eintlik wat die probleem is nie. Ons het beslis die talent en daar is soveel afrigtingstrukture, stigtings en 'n organisasie soos GolfRSA, wat ongelooflike werk doen.
"Ons het 'n nuwe generasie nodig wat majors wen. Ek het destyds vir Gary Player, Nick Price, Mark McNulty, David Frost en daai ouens gehad na wie ek opgesien het.
"Ek is al amper 55 en ons opkomende sterre het al van my vergeet.
Ek kry die idee die spelers speel deesdae net vir geld. Dit is nie goed vir die spel nie.
"Ons het iemand soos 'n Louis Oosthuizen nodig wat majors wen, maar dit is in dié stadium 'n leemte."
Els is egter meer bekommerd oor die stand van die spel en sê gholf is "in 'n warboel" weens die LIV-reeks en die onsekerheid oor die pad vorentoe.
"Ek kry die idee die spelers speel deesdae net vir geld. Dit is nie goed vir die spel nie. Dit is tyd dat die topspelers hulself afvra hoekom hulle speel.
"Ek sou gehoop het dit is om majors te wen en eendag onthou te word as een van die grotes. Dit lyk ongelukkig of dít nie meer so belangrik is nie."




















