Adam Hadwin van Kanada het Donderdag agt voëltjies aangeteken om sodoende die pas op die eerste dag van die Memorial-gholftoernooi in Dublin in die Amerikaanse deelstaat Ohio aan te gee.
Hadwin het die dag met 'n totaal van 66 (ses minder as die baansyfer) geëindig.
Dit was een hou beter as die wêreld se nommereen-speler, Scottie Scheffler van Amerika.
Xander Schauffele van Amerika, wat verlede maand die PGA Kampioenskap gewen het, het op 68 klaargemaak om in die gesamentlike derde plek te wees.
Die ander manne op 68 is Collin Morikawa van Amerika, Ludvig Aberg van Swede en Corey Conners van Kanada.
Hadwin het in 2017 sy eerste en enigste PGA-toernooi gewen.
"Ek voel op die oomblik gemaklik met my spel. Ek voel nooit gejaagd nie en hoewel dit vandag goed gegaan het, besef ek dat dit net die eerste ronde was," het Hadwin gesê.
Christiaan Bezuidenhout van Suid-Afrika het 'n telling van 72 aangeteken. - Field Level Media, BBC





















