Gholf

Lamprecht verspeel Amerikaanse Ope-kans

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Suid-Kapenaar Christo Lamprecht was hoopvol dat hy volgende week vir die eerste keer in sy loopbaan as 'n beroepspeler in 'n major-gholftoernooi kan afslaan, maar dit is hom nie beskore nie.

Lamprecht het onlangs verras toe hy summier die beroepsgeledere betree het ná hy sy kollege-loopbaan by Georgia se Instituut vir Tegnologie (Georgia Tech) afgesluit het.

Hy was die voorste amateur op die wêreldranglys en het met dié besluit sy uitnodiging na volgende week se Amerikaanse Ope by Pinehurst prysgegee.

Lamprecht het verlede jaar vir 2023 se Britse Ope en vir vanjaar se Meesterstoernooi by Augusta en die Amerikaanse Ope gekwalifiseer toe hy die Britse Amateurtoernooi in Engeland gewen het.

Die 22-jarige hemelbesem, wat die gholfwêreld sedertdien van hom laat kennis neem het met sy enorme bofhoue, het Maandag op die Georgia-klub se Lakeside-baan vergeefs probeer om vir die Amerikaanse Ope te kwalifiseer.

Altesame 672 beroepspelers en amateurs het Maandag oor 36 putjies op bane oor die VSA en Kanada heen probeer om vir die beskikbare 44 plekke in die Ope te kwalifiseer.

Lamprecht en sy landgenoot Aldrich Potgieter was twee van 68 spelers wat in Alpharetta, Georgia, 'n plek in die topdrie in hul visier gehad het.

Potgieter se skaflike rondtes van 67 en 69 was nie goed genoeg om te kwalifiseer nie, terwyl Lamprecht (71 en 73) nie naby aan die voorlopers gekom het nie.

Dean Burmester het wel Maandag in die kwalifiserende toernooi by The Bear's Club in Jupiter, Florida, sy deelname aan die 124ste Amerikaanse Ope bevestig toe hy en Matt Kuchar onder die voorste vyf spelers geëindig het.

Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het Maandag sy deelname aan die Amerikaanse Ope bevestig met 'n gesamentlike tweede plek in 'n kwalifiserende toernooi in Jupiter, Florida.   Foto: Getty Images
Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het Maandag sy deelname aan die Amerikaanse Ope bevestig met 'n gesamentlike tweede plek in 'n kwalifiserende toernooi in Jupiter, Florida. Foto: Getty Images

Thomas Aiken, Charl Schwartzel en Branden Grace was egter nie so gelukkig nie.

Burmester het vroeër vanjaar ook die beste onder die Suid-Afrikaanse kontingent gevaar wat in die PGA-kampioenskap gespeel het.

Webb Simpson, die Amerikaanse Ope-kampioen in 2012, het op die baan van die Duke University-klub in Durham, Noord-Carolina, met rondtes van 67 en 69 gekwalifiseer.

Hy het tot 2022 outomaties in aanmerking gekom om in sy nasionale ope gespeel, maar moes verlede jaar ook in 'n kwalifiserende toernooi sy deelname verseker.

Die Aussie Adam Scott loop die gevaar dat daar 'n einde gaan kom aan sy merkwaardige vertoningslys in major-toernooie.

Scott het sedert die Britse Ope in 2001 in 91 majors agtereenvolgens gespeel.

Hy kon egter nie Maandag op die Springfield-baan in Ohio kwalifiseer nie, ondanks twee goeie tellings van 64 en 69.

Scott het nog een kans om 'n afslaantyd by Pinehurst te bespreek.

Die voorste 60 spelers op die wêreldranglys op 10 Junie sal genooi word en Scott is tans 60ste.

Hy speel egter nie van Donderdag af in die PGA-reeks se Memorial-toernooi nie en is afhanklik van spelers om ná die naweek uit te sak en nie meer onder die top-60 te tel nie. - usopen.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM