Die Ierse gholfspeler Shane Lowry het Saterdag die laagste syfer in 'n ronde in major-geskiedenis geëwenaar toe hy 62 - nege onder baansyfer - op sy telkaart ingevul het ná afloop van die derde ronde van die PGA-kampioenskap.
Xander Schauffele en Collin Morikawa is gesamentlik die voorlopers op die Valhalla-gholfbaan in Louisville, Amerika. Schauffele het die derde ronde in 68 houe voltooi, met sy Amerikaanse landgenoot wat die ronde in 67 voltooi het. Sahith Theegala is een hou agter die twee op 199, gevolg deur Lowry, Bryson DeChambeau (Amerika) en Viktor Hovland (Noorweë) - almal op 200.
Die Suid-Afrikaner Dean Burmester is op 202, vier houe agter die voorlopers. Dit nadat hy tellings van 69, 65 en 68 aangeteken het.
Die 30-jarige Schauffele, wat sy eerste major-titel jag, sê hy moet aangaan met wat hy doen en hoop dit is genoeg vir glorie.
Maar Lowry maak geen geheim daarvan nie dat hy graag as kampioen gekroon wil word.
"Ek gaan net só moet aangaan. Baie van die ouens speel nou goeie gholf. Ek gaan môre uitgaan en kyk of ek daardie trofee kan lig," sê Lowry.
Schauffele is een van die spelers wat al 62 houe in 'n ronde in 'n major aangeteken het. Hy het dit Donderdag in die eerste ronde vermag en hy en die Amerikaner Rickie Fowler het dit verlede jaar in die eerste ronde van die VSA-Ope aangeteken. Die Suid-Afrikaner Branden Grace het dié prestasie in 2017 in die Britse Ope vermag.

Saterdag was nie 'n goeie dag vir die 27-jarige Scottie Scheffler nie. Hy is voor die aanvang van die tweede ronde in hegtenis geneem op onder meer aanklagte van roekelose bestuur, dat hy 'n polisiebeampte aangerand en dat hy opdrag van 'n geregsdienaar verontagsaam het.
Scheffler, die wêreld se voorste speler, kon die derde ronde slegs in 73 houe voltooi. Hy is nou op 206, agt houe agter Schauffele en Morikawa.
"Ek het beslis nie op my beste gevoel nie, maar gister (Vrydag) het gebeur en ek het uitgegaan en my beste gegee. Dit was 'n moeilike dag, ek het 'n moeilike begin gehad en die hele dag gesukkel. Ek is redelik gefrustreerd met die dag," sê Scheffler.
• Nog 'n Suid-Afrikaner, Erik van Rooyen, is op 211, nadat hy tellings van 72, 68 en 71 aangeteken het.
Christiaan Bezuidenhout (74 en 68), Ryan van Velzen (75 en 71) en Thriston Lawrence (75 en 78) het nie die afsnypunt gemaak nie. - AFP; Sportredaksie





















