Gholf

McIlroy neem blaaskans ná Amerikaanse Ope-teleurstelling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rory McIlroy benodig tyd om sy insinking in die Amerikaanse Ope te verwerk. Foto: Getty Images
Rory McIlroy benodig tyd om sy insinking in die Amerikaanse Ope te verwerk. Foto: Getty Images

Rory McIlroy het sy stilswye oor sy hartverskeurende Amerikaanse Ope-nederlaag verbreek en sê hy sal 'n paar weke weg van die sport deurbring om "alles te verwerk."

Die Noord-Ier was Sondag in 'n posisie om sy dekade lange titeldroogte in majors te beëindig, maar het sy wenkans weggesmyt met drie brouhoue op sy laaste vier putjies, onder meer twee waar hy met sethoue van 1,2 m misluk het. Hy het uiteindelik met een hou teen Bryson DeChambeau van Amerika verloor.

"Sondag was 'n moeilike dag, waarskynlik die moeilikste wat ek in my 17 jaar as 'n beroepsgholfspeler ervaar het," sê hy in 'n plasing op X.

"Ek sal soos ek nadink oor my week 'n paar dinge oor die loop van die toernooi berou, meestal die verbroude sethoue op die laaste dag op die 16de en 18de.

"Maar, ek sal soos altyd probeer fokus op die positiewe aspekte van die week, wat die negatiewe ver oorskry."

Die 35-jarige McIlroy het geweier om met verslaggewers te praat nadat hy in die laaste ronde by Pinehurst klaaglik misluk het.

Televisiekameras het hom afgeneem terwyl hy gekyk het hoe DeChambeau die sethou vir die oorwinning behaal.

Terwyl die toeskouers gejuig en DeChambeau begin feesvier het, het McIlroy vir 'n paar sekondes voor hom uitgestaar, omgedraai en weggestap met sy joggie, Harry Diamond, agterna.

Die een woord waarmee ek my loopbaan sou beskryf, is ‘veerkragtig'.

'n Paar minute later het hulle op die Pinehurst-parkeerterrein uitgestap, gholfsakke in 'n motor gepak en weggery.

McIlroy, wat ook een hou agter die wenner in verlede jaar se Amerikaanse Ope geëindig het, sê ondanks die hartverskeurende uitslag hy voel nader as ooit daaraan om sy vyfde major te wen.

"Die een woord waarmee ek my loopbaan sou beskryf, is ‘veerkragtig'," sê hy.

"Ek het my veerkragtigheid oor en oor in die laaste 17 jaar bewys en ek sal dit weer doen."

McIlroy sou aanvanklik aan vandeesweek se Travelers-kampioenskap op die TPC River Highlands-baan deelneem, maar gesê hy gaan eerder 'n blaaskans neem.

"Ek gaan 'n paar weke weg van die spel deurbring om alles te verwerk en myself weer op te bou om my titel in die Skotse Ope te verdedig en vir die Britse Ope by Royal Troon.

"Sien julle in Skotland." - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM