Die Italianer Francesco Molinari is as die Europese gholfspan se vierde onderkaptein vir die Ryderbeker-stryd met Amerika in September aangewys.
Die 42-jarige Molinari het in 2023 dieselfde rol in Rome gehad toe Europa die Amerikaanse span verslaan het.
Hy en sy broer, Edoardo, die Deen Thomas Bjorn en die Spanjaard José María Olazábal is Luke Donald, Europese kaptein, se vier assistente vir vanjaar se tweestryd op die Bethpage Black-baan in New York van 26 tot 28 September.
Francesco het as 'n speler sy Ryderbeker-buiging in 2010 saam met sy broer by Celtic Manor in Wallis gemaak en hy was ook in 2012 'n lid van die Europese span wat Amerika by Medinah in 'n rillerstryd uitoorlê het.
Hy en Tiger Woods het destyds die louere in hul enkelspelstryd gedeel, wat Europa tot 'n sege van 14½-13½ gehelp het.
In 2018 het Francesco geskiedenis gemaak toe hy die eerste Europese speler geword het wat al vyf wedstryde in 'n Ryderbeker-toernooi kon wen.
Dit het daartoe bygedra dat Bjorn se Europese span Amerika maklik met 17½-10½ op Le Golf National buite Parys in Frankryk verslaan het.
"Ek is baie bly om weer deel van die span te wees. Ek het dit baie geniet in Rome en dit is 'n wonderlike geleentheid om dieselfde mandaat in New York te hê.
"Dit sal 'n groot uitdaging wees wat ons by Bethpage het, maar ek sien geweldig baie daarna uit," sê Francesco.












