Gholf

Ravetto seëvier by Fancourt

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
David Ravetto van Frankryk het die Dimension Data Pro-Am met twee houe by Fancourt gewen. Foto: Gallo Images
David Ravetto van Frankryk het die Dimension Data Pro-Am met twee houe by Fancourt gewen. Foto: Gallo Images

Die Fransman David Ravetto het Sondag op Fancourt in George sy eerste sege in die Sonskynreeks en Europese Uitdaagreeks behaal toe hy die Dimension Data Pro-Am met twee houe gewen het.

Ravetto het met 'n voorsprong van twee houe op die Montagu-baan in die vierde ronde afgeslaan en twee voëltjies oor sy eerste drie putjies het hom gehelp om vroeg op dreef te kom.

Hy het uiteindelik sy telkaart vir 'n 69 geteken om die toernooi op 15 houe minder as baansyfer af te sluit.

"Dit is 'n ongelooflike gevoel. Ek is regtig trots op myself oor die wyse waarop ek vandag kopgehou het.

"Die afgelope ses maande was nie vir my maklik nie en die wen is ongelooflik," het hy gesê.

Ravetto het daarmee die eerste Franse wenner van dié toernooi geword, wat in die verlede kampioene soos Nick Price (1997, 1998), Lee Westwood (2000), Retief Goosen (2002), Trevor Immelman (2003), Louis Oosthuizen (2007) en Branden Grace (2015) opgelewer het.

Sam Hutsby (68) van Engeland het tweede geëindig met 'n toernooitelling van 276 (-13).

Die Suid-Afrikaners Hennie du Plessis (69) en Robin Williams (69) was gesamentlik derde saam met Victor Pastor (69) van Spanje, vier houe agter Ravetto. - Vlismas Media

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM