Desondanks sy arrestasie vroeër die dag het die Amerikaanse gholfspeler Scottie Scheffler Vrydag 66 houe - vyf onder baansyfer - in die tweede ronde van die PGA-kampioenskap aangeteken om homself in die wedloop vir die titel te hou.
Die 27-jarige Scheffler is drie houe agter die voorloper, sy landgenoot Xander Schauffele, op die Valhalla-gholfbaan in Louisville, Amerika.
Schauffele, wat die eerste ronde in 62 houe voltooi het, het 68 Vrydag op die einde van die dag op sy telkaart ingevul. Hy is een hou voor Collin Morikawa, wat in die tweede plek is, met Sahith Theegala in die derde plek op 132 nadat hy 67 houe in die tweede ronde aangeteken het.
"Ek het taamlik goed gespeel. Ek is tevrede met my posisie," het Schauffele gesê.
Scheffler, die wêreld se voorste speler, het die skok en gepaardgaande drama om gearresteer te word te bowe gekom. Hy is vroeër die dag in hegtenis geneem en op vier aanklagte aangekla - maar vrygelaat, wat hom in staat gestel het om sy gholfstokke te gaan swaai.

Die aanklagte hou onder meer verband daarmee dat Scheffler probeer het om die Valhalla-gholfklub binne te gaan met 'n voertuig wat gemerk is as 'n PGA-kampioenskap-spelersmotor. Hy het probeer om rondom die toneel van 'n noodlottige ongeluk te ry en versuim om by 'n kontrolepunt te stop.
"Ek was tot in my wese geskok," het Scheffler gesê.
"Ek het myself op 'n chaotiese dag in die toernooi gehou. Ek gaan nou daarop fokus om rus in te kry en te herstel sodat ek reg is om diep te delf op die laaste twee dae."
Die polisie het Scheffler geboei voordat hy in hegtenis geneem is op onder meer aanklagte van roekelose bestuur, dat hy 'n polisiebeampte aangerand en dat hy opdrag van 'n geregsdienaar verontagsaam het.
"Dit was nooit my bedoeling om enige opdrag te verontagsaam nie," het Scheffler in 'n verklaring gesê. "Dit was een groot misverstand."
Die voorval het die dag se spel met 80 minute vertraag, met die gevolg dat die laaste ses groepe spelers Saterdag die tweede ronde sal voltooi.

Schauffele, die huidige Olimpiese kampioen, hoop om sy droogte van twee jaar te verbreek. Sy vorige sege was in 2022 in die Skotse Ope.
"Wanneer mens 'n paar jaar nie gewen het nie, moet mens nogal redelik veerkragtig wees. Ek is geduldig en ek probeer om die beste gholf te speel wat ek kan. Ek weet ek speel tans goeie gholf en al wat ek kan doen, is om te fokus op die proses," sê Schauffele.
• Scheffler is luid toegejuig deur toeskouers - van wie sommige T-hempe gedra het met 'n foto van sy gesig wat vroeër geneem is toe hy in hegtenis geneem is.
"Dit was regtig lekker. Die ondersteuners was ongelooflik. Dit het gevoel of hulle vandag ekstra luid was," het Scheffler gesê.

Jordan Spieth het die tweede ronde op 69 houe afgesluit - agt houe agter die voorloper. Dan het Tiger Woods, 'n 15-malige major-kampioen, die dag op 77 houe afgesluit. Hy gaan derhalwe die afsnypunt mis.
"Ek moet meer speel. Ongelukkig het ek nie in baie toernooie gespeel nie," sê Woods.
• Wat die vyf Suid-Afrikaners in die PGA-kampioenskap betref, tel Dean Burmester, Erik van Rooyen en Ryan van Velzen onder diegene wat nog die tweede ronde moet voltooi.
Christiaan Bezuidenhout het die tweede ronde in 68 voltooi, nadat hy 74 in die eerste ronde behaal het.
Thriston Lawrence gaan nie die afsnypunt maak nie, nadat hy die tweede ronde in 78 houe voltooi het. Dit nadat hy 75 ná afloop van die eerste dag op sy telkaart ingevul het. - AFP; Sportredaksie





















