Gholf

Scheffler se hofverskyning tot Junie uitgestel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Scottie Scheffler het ’n woeste naweek agter die rug.  Foto: Getty Images
Scottie Scheffler het ’n woeste naweek agter die rug. Foto: Getty Images

Scottie Scheffler, die voorste gholfspeler ter wêreld, se hofverskyning in verband met vier aanklagte wat voortspruit uit 'n verkeersvoorval by die PGA-kampioenskap in Louisville, Kentucky, is tot 3 Junie uitgestel.

Die hofverskyning sou aanvanklik Dinsdag geskied.

Scheffler se prokureur, Steve Romines, het oor die naweek gesê dat die 27-jarige Meesterskampioen skuld sal ontken op aanklagte van aanranding van 'n polisiebeampte, strafregtelike skade, roekelose bestuur en die verontagsaming van bevele van 'n beampte wat verkeer bestuur.

Romines, wat aan The Golf Channel gesê het dat Scheffler en sy span "nie belangstel in enige vorm van skikkingsonderhandelinge nie", het aan ESPN gesê die hofverskyning is uitgestel weens 'n botsing in sy program.

Beamptes van die Louisville-metropolisie het Scheffler Vrydagoggend geboei voordat hulle hom buite die Valhalla-gholfklub in hegtenis geneem het nadat hy probeer het om 'n verkeersopeenhoping te vermy terwyl die polisie 'n vroeëre noodlottige ongeluk ondersoek het.

Die polisie sê Scheffler se voertuig het versnel en 'n polisiebeampte agterna gesleep. Die beampte het beserings opgedoen en is in die hospitaal behandel.

Scheffler Vrydagoggend in sy tronkoorpak in Louisville, Kentucky. Foto: AP
Scheffler Vrydagoggend in sy tronkoorpak in Louisville, Kentucky. Foto: AP

Romines sê Scheffler het stilgehou toe hy beveel is om dit te doen en Scheffler beskryf die situasie as 'n "groot misverstand".

Scheffler is betyds vrygelaat om in die tweede ronde te speel en het die PGA-kampioenskap in die gesamentlike agtste plek voltooi.

Hy het Sondag gesê die erns van sy situasie het hom eers Saterdagoggend getref.

"Ek sou sê dat ek met die verloop van my loopbaan daarin verbeter het om die afleidings van die baan af by die huis te laat en 'n taamlike stil persoonlike lewe te handhaaf, maar hierdie week was dit duidelik nie die geval nie," het hy gesê.

Scheffler het in Louisville aangekom nadat hy vier van sy laaste vyf toernooie gewen het, onder meer 'n tweede Meesterstitel verlede maand.

Hy en sy vrou, Meredith, se eerste kind, Bennett, is verlede week gebore.

Scheffler sal na verwagting vandeesweek in die PGA-toernooi op die Colonial-baan in Fort Worth, Texas, speel. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM