Gholf

Woods en Mickelson ‘groet mekaar darem’

Die Amerikaner Tiger Woods op die tweede dag van die Britse Ope in Skotland.   Foto: Getty Images
Die Amerikaner Tiger Woods op die tweede dag van die Britse Ope in Skotland. Foto: Getty Images

Die strydbyl tussen Tiger Woods en Phil Mickelson is nog lank nie begrawe nie, hoewel hulle darem vroeër in die week mekaar op 'n oefenbof gegroet het.

Woods en Mickelson het langs mekaar opgewarm op die oefenbof voor die eerste ronde van die Britse Ope op Royal Troon in Skotland.

Mickelson het Saterdag bevestig dat Woods "hallo" gesê het terwyl hulle voorberei het, maar hy het bygevoeg dat hulle te besig was om verder te gesels.

"Ons het hallo gesê," het Mickelson ná sy derde ronde van 72 houe gesê.

"Ja, ons het hallo gesê, maar albei van ons was besig om voor te berei. Dis nie 'n geval dat ons gaan sit en gesels het nie."

Woods en Mickelson was jare lank groot mededingers en sit beslis nie om dieselfde vuur nie.

Sake het die afgelope twee jaar verder vertroebel omdat Mickelson een van die hoofwerwers en spreekbuise van die LIV-reeks is, terwyl Woods 'n aktiewe rol saam met die Amerikaanse PGA speel om samewerking te probeer bewerkstellig.

Toe Mickelson uitgevra is of hulle 'n moontlike oplossing vir die probleme tussen die twee reekse kan vind, was sy antwoord: "Ek weet nie. Ons sal sien, ons sal sien. Ek weet nie te veel van daardie dinge af nie.

"Ek is nie daarby betrokke nie en sit nie in raadsale nie. Ek geniet wat ek doen en laat ander mense daaroor besluit."

• Intussen het die wind Saterdag op die derde dag besluit om weg te kruip, maar toe maak die sluise die hele middag oop.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence het die toestande benut voordat dit begin reën het en saam met Sam Burns die beste telling (albei 65 houe) aangeteken.

Lawrence was op 210 houe (-3) saam met Burns en Russell Henley, asook Justin Rose en Daniel Brown (albei Engeland), in die gesamentlike tweede plek. Hulle was net een hou agter die Amerikaner Billy Horschel (209, -4).

Shane Lowry (Ierland), wat ná die tweede ronde voor was, was op -1, met Dean Burmester op +3. - The Golf Channel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM