Die 15-malige major-wenner Tiger Woods het nog 'n rugoperasie, glo sy sesde, ondergaan om sy pyn te verlig.
Volgens 'n verklaring op X, het Woods Vrydagoggend in Florida 'n mikroskopiese operasie vir 'n vasgeknypte senuwee ondergaan.
Die chirurg wat die operasie gedoen het, het dit as suksesvol beskryf.
Die 48-jarige Woods het laas in Julie in die Britse Ope op Troon in Skotland gespeel, maar kon nie die afsnypunt haal nie.
Woods het gesê hy hoop die operasie sal sy rugspasmas en pyn verlig wat hy vanjaar ondervind.
Woods het die afgelope dekade verskeie rugoperasies ondergaan en kon slegs in 'n paar toernooie speel weens die ernstige beenbesering wat hy in 2022 in 'n motorongeluk opgedoen het. - BBC





















