Die belowende Jorich van Schalkwyk, wat verlede week sy eersterangse debuut vir die Titans gemaak het, is by die Suid-Afrikaanse span vir die Sesse-toernooi in Hongkong ingesluit.
Dié jaarlikse toernooi vir spanne met ses spelers aan ’n kant word van 7 tot 9 November op die Tin Kwong Road-veld beslis.
Die 18-jarige Van Schalkwyk het in Julie opslae gemaak toe hy as aanvangskolwer die eerste dubbele honderdtal in ’n eendagwedstryd op o. 19-vlak aangeteken het. Hy het 215 lopies van net 153 balle teen Zimbabwe in Harare gemoker.
Suid-Afrika was al vyf keer – 1995, 2006, 2009, 2012 en 2017 – die wenner in Hongkong.
Dié toernooi is verlede jaar vir die eerste keer sedert 2017 weer gehou. Geen van verlede jaar se SA spelers is weer in die groep nie.
Die Warriors se veelsydige Jordan Morris sal die span aanvoer. ’n Drietal van die Westelike Provinsie, Kashief Joseph, Abdullah Bayomi en Mbulelo Dube, is ook in die span, terwyl die Bolandse kolwer Ethan Cunningham en die Dolphins se Blake Simpson die groep van sewe spelers voltooi.
Suid-Afrika is in Groep A saam met Afganistan en Nepal geloot. Hy begin sy aanslag teen die Afgane.
Die Sesse-toernooi oorvleuel vanjaar met plaaslike T20-uitdaagreeks en T20-uitklopreeks.
















