Die Protea-draaier George Linde het vandeesweek 'n knieoperasie ondergaan en sal nie deur die Westelike Provinsie vir die naweek se eindstryd in die plaaslike eendagreeks oorweeg kan word nie.
Die WP, wat sover onoorwonne in die kompetisie is, speel Saterdag in die eindstryd op Nuweland teen die Dragons.
Die 31-jarige Linde het in die vorige wedstryd teen die Titans ongemak ervaar, sê die Kapenaars se breier, Salieg Nackerdien.
Hy hoop Linde kan teen die einde van die jaar weer betrek word.
Linde het die begin van die reeks misgeloop nadat hy in die Karibiese Premierliga gespeel het.
Dié veelsydige speler was in net vier wedstryde vir die WP in aksie waarin hy vier paaltjies laat kantel het en twee vyftigtalle aangeteken het.
Kyle Simmonds kan weer as draaier ingespan word.
Wayne Parnell, wat weens 'n skouerbesering nie aan die begin van die reeks oorweeg kon word nie, het nou las van 'n seer voorarm.
Die WP het vir die tweede agtereenvolgende jaar die eindstryd gehaal, terwyl dit die Dragons se eerste eindstryd in Afdeling A is. - Johann de Jager













