Hy is trots op homself dat hy sy einddoelwit, om toetskrieket vir Suid-Afrika te kon speel en boonop 'n 100-tal te kon aanteken, bereik het.
So sê die voormalige Protea-aanvangskolwer Sarel Erwee, wat sy uittrede ná 17 krieketseisoene bevestig het.
Die 35-jarige hotkloukolwer van die Dolphins het 10 toetse vir Suid-Afrika gespeel.
Erwee sê hy sal baie aangename herinneringe uit sy loopbaan saam met hom neem op die pad vorentoe.
Hy het al as 10-jarige seuntjie daarvan gedroom om vir Suid-Afrika te speel, "wat ongelooflik was om toe te kon doen".
"Ek het ook as 'n seuntjie altyd daarvan gedroom om vir die Dolphins te speel. My pa het my altyd van Pietermaritzburg na Durban toe gevat om die wedstryde daar te gaan kyk."
Sy eerste senior wedstryd, waarin hy op nommer agt gekolf het, was in 2008, toe hy in 'n eendagwedstryd vir KwaZulu-Natal Binneland teen KwaZulu-Natal in Durban gespeel het. Hy het die volgende seisoen sy eersterangse buiging ook in Durban vir KwaZulu-Natal teen Suidwestelike Distrikte gemaak.

Erwee wou in 2019 die spel laat vaar het, maar het met die hulp van onder meer 'n sportsielkundige sy ywer vir die spel herontdek.
Hy is in Desember 2020 by die Proteas se toetsgroep ingesluit toe Sri Lanka in die land kom toer het.
Hy moes egter wag tot in 2022, 14 jaar ná sy senior buiging, om sy toetsbuiging te maak. Dít was toe die Proteas 'n toer na Nieu-Seeland onderneem het.
Erwee, toe 32 jaar oud, het in die eerste beurt van die tweede toets in Christchurch sy eerste en enigste toets-100-tal (108) aangeteken. Suid-Afrika het daardie toets met 198 lopies gewen om die reeks gelykop te laat eindig.
Die ander kolfbeurt waarvoor hy onthou sal word, was sy 73 - die gesamentlike hoogste telling in die toets - teen Engeland op Lord's in Londen, waar die Proteas met 'n beurt en 12 lopies gewen het.
Erwee het benewens die toer in Engeland ook Australië se groot velde in Brisbane, Melbourne en Sydney beleef. Om op al daardie beroemde krieketvelde te kon speel is ook iets wat hy vir altyd sal koester.
"Ek het altyd as 'n seuntjie op televisie gekyk, jy weet, hoe wonderlik hierdie velde is en hoe ongelooflik dit moet wees om daar te speel. Om self daar te kon speel en dit te beleef, dáái gaan ek nooit vergeet nie. Ek sal dit baie naby aan my hart hou. Plekke soos Lord's, die MCG en SCG... dis ongelooflik, die Oval ook, in Londen."
Erwee het sy eersterangse loopbaan van 126 wedstryde met 7 453 lopies teen 'n gemiddeld van 37,07 afgesluit. Dit het 13 100-talle en 44 50-talle ingesluit, met 'n hoogste telling van 200*. Sy kolfgemiddeld in 87 eendagwedstryde was 38,12 en 23,55 in 78 T20-wedstryde.
Hy gaan nou vir een van sy borge in 'n bemarkingsrol werk. Hy gaan help met kontrakteerwerk "net om te kyk hoe dit is in die groot wêreld".
"Hopelik is daar groter rolle vir my in die jare wat kom. Ek sal ook in krieket wil bly, daar is miskien 'n geleentheid om in krieket te bly."
Erwee gaan intussen weer vir die Suid-Afrikaanse Legendes-krieketspan, wat AB de Villiers dié keer in sy geledere sal hê, in Julie in Engeland speel.
Hy het verlede jaar 'n onoorwonne 100-tal (105*, 57 balle) teen Pakistan in Northampton in een van sy twee wedstryde in die toernooi gemoker.
- johann.dejager@24.com





















