Die eendeweer waarmee spanne Donderdag begroet is in die laaste ronde van wedstryde in hul meerdaagse krieketreeks, kan die druk laat oplaai vir die vyf spanne wat nog die eindstryd kan haal.
Weens reën was daar in twee wedstryde geen spel op die eerste dag moontlik nie, waarna 'n derde ook deur die weer ontwrig is.
Die eerste dag van die Lions, die voorlopers, se wedstryd teen die Knights in Bloemfontein is deur 'n nat buiteveld, gevolg deur reën in die middag, in die wiele gery.
Die Knights móét hierdie wedstryd wen om relegasie vry te spring.
In Potchefstroom, waar nog 'n aanspraakmaker, die Westelike Provinsie, teen die Dragons speel, is ook geen aflewering afgestuur nie.
Die Titans, wat tweede op die puntelys is, het 51 boulbeurte ingekry teen die Boland in Centurion.
Die besoekers het 156/5 op die telbord gehad toe swak lig 'n einde aan spel gemaak het.
Spel is weens 'n nat buiteveld aan die begin vertraag.
Nadat Boland (80/0) die oggendskof ongedeerd oorleef het, was dit 80/2 nadat Janco Smit (2/26) in sy buiging twee paaltjies in die 24ste beurt laat kantel het.
Dit Titans het daarna teruggeveg om dit 131/5 te maak.
Die aanvangskolwer Pieter Malan, vars van 'n honderdtal verlede week teen die WP, het die beste met die kolf vir die besoekers gevaar. Hy sal Vrydag met sy telling op 78 voortkolf.
• TELKAART
Senuran Muthusamy het met 'n onoorwonne 93 aansien gegee aan die Warriors se eerste beurt van 244/9 op die eerste dag van hul kragmeting met die Dolphins in Gqeberha.
Die Dolphins, derde in die wedloop, sou in hul noppies wees met die Warriors wat vroeg in die knyp was op 40/4.
Die telling was ná middagete 80/5 toe die groot vis Jordan Hermann (52) deur Eathan Bosch (2/31) geboul is.
Muthusamy en Andile Mokgakane (36) het toe 74 lopies om die sesde paaltjie aangeteken.
Renaldo Meyer (0, 12 balle) sal Vrydagoggend voortkolf saam met die 31-jarige Muthusamy, wat 'n negende honderdtal in sy visier het.
• TELKAART
- johann.dejager@24.com
Bykomende bron: supersport.com










