Ryan Rickelton was met 'n derde 100-tal in soveel meerdagwedstryde vir die Lions een van die spelers wat 'n kleim afgesteek het om in die 11-tal te wees in Suid-Afrika se eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande.
Rickelton het Dinsdag 125 lopies van net 112 balle (11x4; 7x6) teen die Warriors op die Wanderers gemoker.
Die tuisspan kon met 433 in sy eerste beurt antwoord op die 438 wat die Warriors vroeër aangeteken het.
Die hotklou Rickelton is ná die toer in Engeland weens 'n enkelbesering uit die toergroep na Australië weggelaat.
Victor Mpitsang, keurderbaas, het verduidelik omdat die toer in Australië was, kon hulle dit nie met Rickelton soontoe waag waar hulle nie onmiddellik 'n plaasvervanger het nie.
Rickelton het intussen met dié skeet steeds in elke wedstryd vir die Lions gespeel en toe ook vir MI Cape Town in die SA20-reeks.
Temba Bavuma (67) het ook Dinsdag goeie oefening gekry.
Hoewel die SuperSport-kolfblad in Centurion volgende Dinsdag die finale 11-tal sal bepaal, kan die draaier Keshav Maharaj se string paaltjies van die laaste ruk dalk Shukri Conrad, Suid-Afrika se nuwe toetsbreier, sy planne laat wysig.
Conrad het met die aankondiging van die span gesê hy verkies sewe kolwers en vier boulers in 'n span - en hy het gesê hy wil al vier snelboulers in die eerste toets inspan.
Maharaj was na verneem word onder druk om sy plek te behou nadat hy met net een paaltjie van Australië af teruggekeer het. Toegegee, die blaaie in die drie toetse daar het die draaiers allermins gepas.
Maharaj het in die eerste toets op 'n grasgroen blad in Brisbane net twee beurte afgestuur.
Maharaj het met die hervatting van die plaaslike meerdagreeks vandeesmaand nege paaltjies teen die Westelike Provinsie in Durban laat kantel. Die draaiers het veral op die tweede dag behoorlik baljaar met 14 van die 16 paaltjies wat gekantel het.
Maharaj het tot dusver dié week sy 2/74 en 7/75 in Durban met 5/56 en 1/31 teen die Knights in Bloemfontein opgevolg.
Sarel Erwee (132) het die Knights Dinsdag laat betaal vir die paar kanse aan die begin van sy kolfbeurt met die uitskeityd Maandag.
Khaya Zondo (55*), wat soos Erwee in Australië was, maar nie weer die toetsgroep gehaal het nie, het die Dolphins ook gehelp om 336/6 in hul tweede beurt te kry.
Die terugkerende toetskolwer Keegan Petersen is ná sy 26 in die eerste beurt weer deur Gerald Coetzee (1/42) vir 18 uitgehaal. Dit was Coetzee se enigste paaltjie ná sy vyftal in die Dolphins se eerste beurt.
Die Knights het 84/2 in hul tweede beurt gehad en benodig nog 341 op die laaste dag om te wen.
Net agt spelers van die toetsgroep was tot dusver vandeesweek in meerdagstryde in aksie.
Daar was vir 'n derde agtereenvolgende dag weens reën geen spel in die wedstryde in Potchefstroom en Centurion moontlik nie. Die Titan-spelers - Dean Elgar, Aiden Markram, Heinrich Klaasen en Simon Harmer - het in die binnenshuise nette by die prestasiesentrum geoefen neffens die Tuks-ovaal waar hulle teen die Rocks moes speel.





















