Meerdagreeks

‘Snakes-ball’ kry WP in eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ryan Rickelton gister vir die Lions teen die Titans in Centurion in aksie.Foto: gallo
Ryan Rickelton gister vir die Lions teen die Titans in Centurion in aksie.Foto: gallo

Engeland het "Bazball", maar die Westelike Provinsie het hul eie suksesresep wat hulle na die eindstryd van die meerdagreeks laat deurdring het: "Snakes-ball."

Só sê Qaasim Adams, die WP se kolfafrigter, in die aanloop tot die meerdag-eindstryd teen die Lions, wat Woensdag op die Wanderers begin. Die wedstryd sal oor vyf dae beslis word.

Die WP het laas in 2014 die meerdagreeks gewen en die Lions was in 2020 laas die kampioen.

Die Kapenaars het 26 punte ingesamel in hul laaste groepwedstryd deur die Dolphins, die verdedigende kampioen, binne drie dae op Nuweland met 'n beurt en 259 lopies af te ransel. Die Dolphins het op die derde dag 15 paaltjies vir 158 lopies verloor. Die linksdraaier Kyle Simmonds (9/75 in die wedstryd) was die laksman.

Volgens Adams was die WP se benadering om uit moeilike situasies te kom deur terug te slaan met aanvallende krieket.

"Engeland het die ultra-aanvallende styl Bazball. Ons noem ons taktiek Snakes-ball, want ons afrigter, Salieg Nackerdien, se bynaam is Snakes. Ons voel ons moenie bang wees om ons paaltjies prys te gee nie, maar moet waar ons kan, vryelik en aanvallend kolf. Ons het ook probeer om strykdeur positief te wees met kolf en bal," sê Adams.

"Die WP se benadering was ook dat wanneer iemand afwesig is weens 'n besering, die nuweling die mantel moet oorneem met onderskeiding. So is George Linde opgeroep na die Pakistanse Superliga en Simmonds het ingestap en 7/39 laat spat in die tweede beurt teen die Dolphins."

Ervaring was dié seisoen 'n sleutelfaktor vir die WP. Die kolwers Eddie Moore, David Bedingham en Kyle Verreynne het almal dié seisoen reeds vir die Proteas gespeel. Ditto die boulers Nandré Burger, Beuran Hendricks en Dane Paterson.

Die Lions het boaan die puntelys klaargemaak met 119.36 punte en is die gasheer in die eindstryd danksy onder meer twee ster-kwaliteite - senior kolwers se vasbyt-vermoë onder druk en baie meer leë boulbeurte - sê Allan Donald, die boulafrigter van die Lions.

Kyle Simmonds
Kyle Simmonds

Hy sê Ryan Rickelton (64, 126 balle) en Wiaan Mulder (40, 50 balle) het in die naweek se oorwinning met vyf paaltjies oor die Titans daardie hardnekkigheid deur senior kolwers in hoëdruk-oomblikke onderstreep deur te sorg vir 'n vennootskap van 85 om die derde paaltjie. Dit was nadat die Leeus op 32/3 in Tamatiestraat was.

"Russell (Domingo, die afrigter), het gevra senior kolwers moet opstaan as daar druksituasies is, en Wiaan-hulle het dit gedoen," sê Donald.

"Toe ek ses weke gelede as boulafrigter hierheen gekom het, het Russell gesê die boulwerk is 'n bietjie los. Die klem was daarna op baie meer leë boulbeurte. Ons boulwerk was in die laaste tyd baie meer akkuraat en gedissiplineerd."

Donald sê die span het 'n paar hoofbrekens wat die samestelling van hul elftal betref, aangesien die Proteas Temba Bavuma, Duanne Olivier en Tshepo Moreki almal fiks en beskikbaar is.

CTA