Krieket

ONTHUL | Die dwelm wat Rabada gebruik het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Toe Kagiso Rabada op 1 April die kennisgewing kry dat tekens van kokaïen in sy urienmonster gevind is, het hy die opsie om sy B-monster te laat toets van die hand gewys.

Kagiso Rabada warm die afgelope week op saam met sy Gujarat Titans-spanmaats voor die IPL-wedstryd teen die Mumbai Indians. Rabada het nie gespeel nie. Foto: AFP
Kagiso Rabada warm die afgelope week op saam met sy Gujarat Titans-spanmaats voor die IPL-wedstryd teen die Mumbai Indians. Rabada het nie gespeel nie. Foto: AFP

"Hy was slim om daardie roete te volg. As jy weet jy het dit gedoen, spaar dit jou tyd en regskoste," sê Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids).

Saids het Maandag bevestig Rabada is positief getoets vir 'n verbode middel en het reeds sy skorsing van 'n maand uitgedien. Saids kan eers ná 30 dae, dus op 4 Junie, bekend maak watter dwelm presies dit is, aangesien die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada), Krieket Suid-Afrika (KSA) en die Internasionale Krieketraad (IKR) nog kan appelleer as een van dié liggame meen Rabada se straf is te streng of te sag. Galant glo die kans vir 'n appèl is bitter skraal.

Rapport het vasgestel die urienmonster wat Rabada op 21 Januarie gelewer het ná MI Cape Town se SA20-wedstryd teen die Super Giants in Durban, het benzoylecgonine (BZE) getoon, 'n metaboliet van kokaïen.

Die konsentrasie daarvan was minder as 1 000 nanogram per milliliter, wat dui op die gebruik van kokaïen, maar nie op die dag van die toetsing nie.

Dít het Rabada gehelp om 'n lang skorsing vry te spring, omdat sy regspan kon bewys hy het die kokaïen buite-kompetisie gebruik.

Galant sê in 'n krieket-konteks beteken "buite-kompetisie" bloot 'n dag waarop 'n speler nie in 'n wedstryd speel nie.

Toe Rapport gister aan Rabada vra of hy kommentaar wil lewer spesifiek oor die metaboliet van kokaïen wat in sy monster gevind is, het hy verwys na die verklaring wat hy verlede Saterdag uitgereik het.

Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids). Foto: Ineke Coetzee
Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids). Foto: Ineke Coetzee

"My storie is dat ek 'n fout gemaak het en nou die gevolge van daardie fout moet hanteer," sê hy.

Rabada is tans in Indië, waar hy die Gujarat Titans in die Indiese Premierliga (IPL) verteenwoordig. Die IPL is Vrydag met 'n week uitgestel weens konflik tussen Indië en Pakistan. Die Protea-snelbouler het op 29 Maart laas gespeel, maar is beskikbaar as hy gekies word.

Galant het die afgelope week aan Rapport gesê dit duur gewoonlik tussen agt en 12 weke sedert 'n atleet getoets is totdat hy of sy ingelig word oor 'n positiewe uitslag.

"Soms selfs langer," sê hy.

"Ons het nie meer 'n geakkrediteerde laboratorium in Suid-Afrika nie. Ons het altyd die een in Bloemfontein gebruik (wat sedertdien sy akkreditasie verloor het) en ons monsters moet nou na Katar of België gestuur word vir ontleding. Dit neem nog 14 dae."

Rabada se monster is in Doha, Katar, ontleed.

"Wanneer ons die uitslae van die laboratorium ontvang, moet ons nog bykomende interne toetse doen om te verseker daar was nie geen probleme met die integriteit van die monster tydens die vervoer-proses of die toetsing nie."

Dié proses neem 'n maksimum van vier weke.

Saids het Rabada, KSA, Wada en die IKR op 1 April van die positiewe bevinding ingelig, waarna Rabada uit Indië na Suid-Afrika teruggekeer het.

Kagiso Rabada en die Proteas vier 'n paaltjie in die tweede toets teen Pakistan in Kaapstad vanjaar. Foto: Gallo Images
Kagiso Rabada en die Proteas vier 'n paaltjie in die tweede toets teen Pakistan in Kaapstad vanjaar. Foto: Gallo Images

In Suid-Afrika het Rabada die positiewe uitslag aanvaar en begin om sy verdediging voor te berei.

"Hy het 'n beëdigde verklaring met wetenskaplike bewyse gelewer wat toon die inname van die middel het buite-kompetisie plaasgevind. Die wetenskap wat betref die konsentrasie van die middel wat in sy monster gevind is, het bevestig dat hy dit buite-kompetisie geneem het," sê Galant.

"Hy het 'n farmakologie-kenner gebruik en ons ook, wat gekyk het na die konsentrasievlakke van die middel in sy monster. Deur te kyk wanneer ons getoets het en hoe sterk die konsentrasie van die middel in sy monster is, stel hulle dan vas hoe geloofwaardig die atleet se aanspraak is oor wanneer hy sê hy die middel geneem het.

"As ek byvoorbeeld sê ek het 'n middel twee dae gelede geneem, maar die konsentrasie in my monster is baie hoog, kan die farmakologiese ontleding my verkeerd bewys, want dis nie konstant met die hoeveelheid in my metabolisme nie."

Rabada het ook ingestem tot 'n beradingsprogram, wat sy skorsing verder verkort het. Dit het boonop in sy guns getel dat hy onmiddellik sy volle samewerking gegee het.

Galant glo dit is nodig dat Saids ook dwelms wat nié opkikkers is nie, polisieer.

"Wanneer dit by dwelmvrye sport kom, is daar drie oorwegings. Eerstens: Verbeter dit prestasie? Tweedens: Stel dit die atleet of sy teenstanders in gevaar? En derdens: Is dit teen die gees van die spel?

"Hier, met mnr. Rabada (is laasgenoemde 'n groot oorweging). Hy is 'n hoëprofiel-sportman, kinders kyk op na hom. In sport wil ons hê atlete moet rolmodelle wees en ons wil nie hê kinders moet sien hoe hulle onwettige dwelms gebruik nie."

Khalid sê 16 spelers is tydens die SA20 getoets. Saids doen ook toetse tydens KSA se gewone kompetisies.

Enoch Nkwe, KSA se hoof van nasionale spanne, sê dié beheerliggaam gaan Rabada nie verder straf nie.

"Ons is tevrede met Saids se prosesse en uitkomste," sê Nkwe.

Rabada sal dus beskikbaar wees om die Proteas van 11 Junie af op Lord's in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië te verteenwoordig.

sport@rapport.co.za

RAPPORT PRAAT SPORT

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM