Protea-vroue

Drie Protea-vroue haal Wêreldbeker-droomspan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Marizanne Kapp in aksie teen Nieu-Seeland in die Wêreldbeker-toernooi.  Foto: Getty Images
Marizanne Kapp in aksie teen Nieu-Seeland in die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Drie Suid-Afrikaanse vrouekrieketspelers is ingesluit in die Internasionale Krieketraad se Droomspan ná die Wêreldbekertoernooi wat Sondag in Nieu-Seeland tot 'n einde gekom het.

Laura Wolvaardt, Marizanne Kapp en Shabnim Ismail is in die span ingesluit wat gekies is deur 'n paneel wat onder andere bestaan het uit die kommentators Natalie Germanos en Nasser Hussain.

Die drietal se insluiting is geen verrassing nie.

Wolvaardt het 433 lopies in die toernooi aangeteken - die vierde meeste. Sy het daardie lopies teen 'n gemiddeld van 54.12 aangeteken en vyf 50-talle in agt kolfbeurte gemoker.

Ismail, 'n snelbouler, se 14 paaltjies is die tweede meeste, met Sophie Ecclestone (Engeland) wie se 21 slagoffers die meeste is.

Kapp het 12 paaltjies platgetrek en by meer as een geleentheid ook op kritieke tye stewige bydraes met die kolf gelewer.

Vier Australiërs, Alyssa Healy, Meg Lanning, Rachael Haynes en Beth Mooney, is in die span ingesluit. Australië het Engeland Sondag in die eindstryd met 71 lopies in Christchurch geklop. Lanning, kaptein van die Aussies, is ook as kaptein van die Droomspan aangewys.

Healy se 509 lopies was die meeste in vanjaar se toernooi. Sy het 170 lopies in die eindstryd aangeteken en is aangewys as Speler van die Eindstryd en die Speler van die Toernooi.

• Droomspan: Laura Wolvaardt (Suid-Afrika), Alyssa Healy (Australië), Meg Lanning (Aus, k), Rachael Haynes (Aus), Nat Sciver (Engeland), Beth Mooney (Aus), Hayley Matthews (Wes-Indiese Eilande), Marizanne Kapp (SA), Sophie Ecclestone (Eng), Shabnim Ismail (SA), Salma Khatun (Bangladesj). 12de vrou: Charlie Dean (Eng).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM