Protea-vroue

Engeland klop Protea-vroue in japtrap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Laura Wolvaardt was die enigste uitblinker in die Proteas se kolfbeurt in die eerste T20-wedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images
Laura Wolvaardt was die enigste uitblinker in die Proteas se kolfbeurt in die eerste T20-wedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

Laura Wolvaardt en Ayabonga Khaka was Donderdag die enigste ligpunte in die Protea-vrouekrieketspan se nederlaag teen Engeland in die eerste T20-wedstryd tussen die twee spanne.

Die Engelse het in 'n japtrap met ses paaltjies in Chelmsford gewen.

Die wenspan het die loot gewen en Suid-Afrika ingestuur om te kolf. Die Proteas kon slegs 'n skamele 111/9 in 20 boulbeurte aanteken.

Engeland (114/4) het die wenlopies van die laaste bal van die 15de boulbeurt aangeteken. Sophia Dunkley (59, 39 balle) was Engeland se uitblinker met die kolf.

Shabnim Ismail het in die agtste boulbeurt 'n geleentheid gehad om Dunkley, wat toe op 47 was, uit te vang van Chloé Tryon se boulwerk af. Helaas het Ismail die vangskoot verbrou.

Khaka, 'n naatbouler, het die beste van die besoekers met die bal gevaar. Haar ontleding was 3/13 in vier boulbeurte.

Wolvaardt (55, 49 b) en Anneke Bosch (18, 21 b) was die enigste Suid-Afrikaners wat dubbelsyfers met die kolf kon aanteken. Vandat Lara Goodall haar paaltjie in die eerste boulbeurt vir 'n nulletjie verloor het, was die besoekers onder druk. Sy het Suid-Afrika se kolfbeurt saam met Bosch begin.

Die Proteas se Sinalo Jafta word Donderdag skoongeboul deur Sophie Ecclestone. Engeland se paaltjiewagter is Amy Jones. Foto: Getty Images
Die Proteas se Sinalo Jafta word Donderdag skoongeboul deur Sophie Ecclestone. Engeland se paaltjiewagter is Amy Jones. Foto: Getty Images

Suné Luus (0, 5 b), Mignon du Preez (4, 7 b) en Tryon (9, 8 b) kon nie een hond haaraf met die kolf maak nie. Dit is die 23-jarige Wolvaardt se vierde 50-tal in T20-krieket. Dit ewenaar haar hoogste telling van 55 onoorwonne lopies wat sy in 2018 teen die Wes-Indiese Eilande in Tarouba aangeteken het.

Die 37-jarige Katherine Brunt, 'n naatbouler, het die beste vir Engeland met die bal gevaar met haar ontleding van 4/15 in vier boulbeurte. Dit is die eerste keer in haar loopbaan dat sy vier paaltjies in 'n internasionale T20-wedstryd plattrek.

Die Proteas is sonder Marizanne Kapp, wat weens familieredes na Suid-Afrika terugkeer het.

• Telkaart

• Die tweede T20-wedstryd in die reeks van drie word Saterdag in Worcester beslis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM