Protea-vroue

Engelse klop Protea-vroue op drafstap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Emma Lamb het Maandag op haar gemak teen die Suid-Afrikaanse boulers vertoon. Trisha Chetty is die Proteas se paaltjiewagter. Foto: Getty Images
Emma Lamb het Maandag op haar gemak teen die Suid-Afrikaanse boulers vertoon. Trisha Chetty is die Proteas se paaltjiewagter. Foto: Getty Images

'n Groentjie, wat in slegs haar derde internasionale eendagwedstryd gespeel het, het Engeland met 'n 100-tal gehelp om die Protea-vrouekrieketspan op 'n drafstap te klop.

Engeland het die eerste eendagwedstryd in die reeks van drie met vyf paaltjies Maandag in Northampton gewen.

Die Proteas het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kon net 218 in 47.4 boulbeurte aanteken. Die Engelse (219/5), met Emma Lamb (102, 97 balle; 15x4) aan die spits, het die wenlopies in die 33ste boulbeurt aangeteken.

Lamb het Engeland se kolfbeurt saam met Tammy Beaumont (1, 8 b) begin. Die 24-jarige Lamb is goed deur Natalie Sciver (55, 36 b; 8x4) bygestaan.

In die afwesigheid van die snelbouler Shabnim Ismail, wat steeds las van 'n kuitbesering het, was die Proteas se boulaanval maar stomp.

Die naatbouler Nadine de Klerk (2/44) was Suid-Afrika se beste bouler.

Chloé Tryon (88, 73 b; 10x4, 3x6), Laura Wolvaardt (43, 72 b) en De Klerk (38, 53 b) was die enigste ligpunte in die Proteas se kolfbeurt.

Chloé Tryon was die Proteas se beste kolwer in die eerste eendagwedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images
Chloé Tryon was die Proteas se beste kolwer in die eerste eendagwedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

Andrie Steyn (14, 21 b), Lara Goodall (5, 8 b), Suné Luus (7, 28 b) en Marizanne Kapp (12, 27 b) kon nie veel met die kolf uitrig nie.

Met Wolvaardt se vertrek in die 30ste boulbeurt en die Proteas op 108/5 het dinge nie rooskleurig vir die besoekers gelyk nie. Tryon en De Klerk het egter 97 lopies om die sesde paaltjie aangeteken. Daardie vennootskap het die Proteas van vernedering in hul kolfbeurt gespaar.

Toe Tryon haar paaltjie verloor het, het dinge egter vinnig vir Suid-Afrika uitgerafel, met die laaste vyf paaltjies wat vir 'n skamele 13 lopies geval het.

Sciver, 'n naatbouler, was die Engelse se beste bouler met haar ontleding van 4/59 in 9.4 boulbeurte.

• Die tweede wedstryd word Vrydag in Bristol beslis.

• Telkaart

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM