Die padkaart wat Laura Wolvaardt se persoonlike afrigter, Laurie Ward, vir haar help opstel het, het dié Protea-aanvangskolwer gehelp om die voorste kolwer in vanjaar se T20-Wêreldbeker-toernooi vir vroue te wees.
Sy het die toernooi afgesluit met spogbeurte van 66 teen Bangladesj, 53 in die halfeindronde teen Engeland en 61 teen Australië in die eindstryd. Haar totaal vir die toernooi is 230.

Ward het haar gehelp om met 'n meesterplan vorendag te kom oor hoe om meer grenshoue bo-oor die binnering te slaan. Sy het die balans perfek gevind tussen versigtig kolf en 'n grondslag lê, en aggressiewe houespel in die kragspelbeurte.
Ward, wat reeds 14 jaar lank Wolvaardt se afrigter is en haar die eerste keer onder hande geneem het toe sy nege was, het die regskolwer sien sukkel in die openingswedstryd teen Sri Lanka.
"Ek kon sien wanneer sy haar paaltjie gaan verloor. Dit het gekom nadat sy van 'n paar balle nie lopies kon aanteken nie. Ek het ná haar aanvanklike gesukkel in die toernooi vir haar 'n wedstrydplan ontwerp. Dit was om onder geen omstandighede haar paaltjie in die eerste 30 balle prys te gee nie. Sy kon altyd later die lopietempo aanstoot," sê Ward.
"Ek het haar aangemoedig om positief te bly wanneer sy onder geweldige druk is, om die druk te absorbeer en bloot met goeie houe die tempo te versnel, pleks daarvan om met 'n gesloeg haar paaltjie prys te gee."
Wolvaardt het stotterend begin. In haar eerste drie wedstryde by die toernooi kon sy net 50 lopies aanteken.
Ek het in die groepwedstryd teen Bangladesj gesien hoe sy daardie ‘geestelike skakelaar aanskakel'.
"Ek het in die groepwedstryd teen Bangladesj gesien hoe sy daardie ‘geestelike skakelaar aanskakel' in die negende beurt. Dit was om positief onder druk te bly en met positiewe houespel te versnel. Daarna was sy 'n nuwe speler tot en met die eindstryd."
Wolvaardt se dekpuntdryfhoue het haar die estetiese liefling van internasionale vrouekrieket gemaak.
"In internasionale krieket kry jy nietemin baie min halfvolballe net buite die wegpen. Laurie het my onder hande geneem en ek moes meer krag genereer met houe oor dekpunt en oor halfweg en halfby," sê Wolvaardt.
Ward het 'n krieket-sentrum in Montagu Garden bekend as The Complete Cricketer. Daar het hulle dikwels minstens twee keer per week daaraan gewerk om op die voorvoet en luglangs houe oor die binnering te slaan.
" 'n Mens kon dit in hierdie toernooi sien. Sy het selfs houe oor diep middebaan geslaan vir sesse," vertel Ward.
In die eindstryd teen die Aussies het Wolvaardt in haar beurt van 61 van 48 balle drie sesse en vyf viere geslaan.
Wolvaardt gee die voormalige Westelike Provinsie-aanvangskolwer Andrew Puttick ook baie krediet. Die voormalige SA speler was die Protea-vrouespan se kolf-afrigter by vanjaar se toernooi. "Andrew ken die verskillende velde baie goed en het my heelwat raad gegee. Ons het deur die loop van die toernooi ook gewerk aan hoe ek my spel teen wegbreekboulers kan verbeter . . . en ek het."
Wolvaardt is egter ver van tevrede met haar spel.
"Ek wil graag 'n eendaggemiddelde hê van 50. Ek wil ook baie meer vyftigtalle omskep in drie syfers."
Tans het sy 'n gemiddelde van 45.61 en het 29 keer 50-talle aangeteken en net drie honderdtalle.
"My treftempo in internasionale T20-krieket (109.10) is nog te laag en ek dit sal in die Big Bash-liga vir vroue en die vroue-IPL moet verbeter."




















