Protea-vroue

‘Ons soek nuwe idees, plan’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan het "almal gehoop vir nuwe idees, vir vars mense en vir 'n verandering van omgewing" omdat die spelers nie wil stagneer nie.

"As jy 'n tree voor Australië wil kom, moet jy op 'n nuwe manier begin oefen, dink en speel, anders sal ons nie teen hulle begin wen nie."

Nadine de Klerk in aksie in die T20-Wêreldbeker-toernooi. Foto: Gallo Images
Nadine de Klerk in aksie in die T20-Wêreldbeker-toernooi. Foto: Gallo Images

Só het Nadine de Klerk, veelsydige SA speler, gereageer toe sy gepols is oor die beweerde ontevredenheid van Protea-vroue oor Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit om Hilton Moreeng se termyn as afrigter vir die 2023-'24-seisoen te verleng.

Moreeng se termyn sou geëindig het nadat die Protea-vroue vanjaar die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi gehaal het. KSA het egter die afrigter, wat reeds sedert 2012 aan die stuur is, in sy pos behou tot aan die einde van die 2023-'24-seisoen.

Volgens Pholetsi Moseki, uitvoerende hoof van KSA, het dit nie sin gemaak om Moreeng se ampstermyn nie te verleng nie, omdat die nasionale span by agtereenvolgende toere betrokke is - teen Pakistan van 1 September af en 'n inkomende toer deur Nieu-Seeland net daarna, terwyl besoeke deur Bangladesj en Sri Lanka ook op die program is.

'n Nuwe afrigter sou volgens Moseki net 'n maand tyd gehad het om die span voor te berei voor die Pakistan-reeks, wat nie billik is nie.

Ons het die Wêreldbeker-halfeindronde (vier keer in ses jaar) bereik. En onder Hilton het daar groei plaasgevind.

De Klerk het aan Rapport erken 'n vrees vir stagnasie is deel van die rede waarom spelers gehoop het op 'n nuwe hoofstuk wat die nasionale afrigter betref.

"Internasionale sport gaan deesdae daaroor dat spanne mekaar opsom en teenvoeters uitwerk. Jy wil nie stagneer nie. Ons het nog nie teen Australië gewen nie, en wil probeer om 'n tree voor hulle te kom deur op nuwe maniere te oefen en te speel en te dink. As jy op dieselfde maniere as voorheen oefen, gaan die resultaat dieselfde bly.

"Maar dis nie asof ons sonder idees was die afgelope ses jaar waarin ek vir die Proteas gespeel het, of onder aan die puntelys was nie. Ons het die Wêreldbeker-halfeindronde (vier keer in ses jaar) bereik. En onder Hilton het daar groei plaasgevind. Die situasie (met die bestuurspan) is soos dit is en ons kan niks daaraan verander nie."

De Klerk se opgang as speler in 2023 weerspieël die groei. Die 23-jarige veelsydige speler - wie se neef Stephan Myburgh vir Nederland gespeel en sy broer Johann vir die Titans en Somerset uitgedraf het - het in die afgelope drie maande die soort vertonings gelewer wat internasionale kenners laat regop sit.

Danksy verstellings aan haar boul- en kolfwerk, het sy reusevordering gemaak in haar strewe na grootsheid.

"Ek het 'n tegniese fout in my boulwerk gehad wat my laat sukkel het om die bal te swaai. Die SA boulafrigter, Dillon du Preez, het my gehelp om dit uit te stryk sodat ek my gewrigsposisie agter die bal kon verbeter," sê sy.

In Mei vanjaar het die verdedigende kampioen, Northern Diamonds, in die Rachael Heyhoe Flint-toernooi onder die "nuwe" De Klerk deurgeloop. Die naatbouler het as draer van die nuwe bal in 9.1 beurte 7/33 geneem vir The Blaze. Sy het die Diamonds uitgeknikker vir 62 in 'n eendagwedstryd. Sy het agt beurte agtereenvolgens geboul, en drie glipveldwerkers en een op 'n gangetjie het agter die paaltjie stelling ingeneem terwyl sy die Diamonds met haar swaaiballe verfomfaai het.

Krieketkenners wat De Klerk dopgehou het sedert sy op 11-jarige ouderdom haar senior debuut vir Gauteng-Noord gemaak het, en op 17 haar buiging vir die Proteas, was sekerlik nie verbaas oor haar vertoning nie.

"Wat my kolfwerk betref, het ek probeer hou by die soort aanvallende houe wat my welslae besorg het - dit is my dekpunt-dryfhoue, dryfhoue oor halfweg en veeghou teen die draaiers," het sy bygevoeg.

In The Hundred vir vroue het sy Maandag vir die Oval Invincibles teen die Trent Rockets 'n onoorwonne 51 van 25 balle gemoker, met agt viere en een ses, wat die span tot 'n oorwinning geïnspireer het.

De Klerk meen sy is soms te konserwatief en te versigtig in internasionale eendaagse krieket, vandaar die feit dat sy as nommersewe-kolwer nog nie 'n vyftigtal kon behaal nie.

"Waar ek in T20-krieket instap en met 'n hoë intensiteit en aggressief kolf, is ek soms in eendagkrieket te versigtig.

"Ek was soms bang om die bal oor halfweg te slaan vroeg in my beurt. Wat sou gebeur as ek gevang word op halfweg en daar is nog 15 beurte oor?

"Ek het nou besluit ek gaan myself ondersteun in eendaagse krieket en hou by my DNS - my aggressiewe aanvallende styl - pleks daarvan om in selfvertwyfeling te verval."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM