Druk lei tot flaters en dit kom die Protea-vrouekrieketspan duur te staan.
Bongani Ndaba, die span se veldwerk-afrigter, sê hy wil daarom met 'n nuwe veldwerkplan meer vernuftige en kundige spelers in die spesialis-posisies laat stelling inneem omdat die nasionale span onder druk te veel bottervingers het.

Die span het Woensdag in Benoni in die tweede T20-kragmeting teen Engeland vir Danni Wyatt-Hodge op nege en 29 laat val. Sy het voortgegaan om 78 te moker van 45 balle. Nat Sciver-Brunt is ook 'n lewe gegun. Sy is op 25 laat val en het 67 bygedra tot Engeland se 204/4.
Die besoekers het met 36 lopies gewen en daarmee 'n onaanvegbare voorsprong met 2-0 verkry in die reeks van drie wedstryde. Die derde kragmeting in Centurion het gisteraand ná druktyd klaargemaak.
"Bestendigheid makeer. Dit het niks met vaardighede te doen nie, maar wel met die onvermoë om soms onder druk in die kragspel en in die hoë-oktaan-beurte vangskote te benut," sê Ndaba.
Hy wil spesialiste identifiseer wat in die sleutelposisies van diepweg, diepby en middebaan kan stelling inneem.
"Ek wil ook druksituasies in oefeninge naboots."
Ndaba sê hy wil die SA veldwerkers se ingesteldhede verander sodat hulle daarna uitsien om vangskote te benut in die groot oomblikke. Daardie kopskuif kan opsigself die land se veldwerk na 'n nuwe vlak neem.
Paul Adams, assistent-afrigter van die Protea-vroue, het intussen gesê die wedstrydplanne van die boulers was in die kol in die eerste twee T20-kragmetings met Engeland, maar swak implementering daarvan het die SA span gekelder.
"In die tweede wedstryd in Benoni was die plan om reguit te boul en nie wydte aan die kolwers te gee nie," sê Adams.
"Die boulers moes die kolwers dwing om die bal te speel in die rigting van die vier veldwerkers wat op die grens stelling ingeneem het.
Eliz-Mari boul met venyn en Ayanda kan omskep word in 'n ware spoedvraat.
"Maar in die praktyk het ons te veel kort volballe geboul en baie wyd van die wegpen."
Engeland het 136 lopies in grenshoue behaal. Hulle het uiteindelik op 204/4 geëindig.
Suid-Afrika kon nog nie waardige plaasvervangers vind vir die 32-jarige Ayabonga Khaka en 34-jarige Marizanne Kapp nie.
Hulle was vanweë deelname aan die Big Bash-toernooi vir vroue nie beskikbaar vir die T20-reeks nie.
Khaka en Kapp boul deurgaans in die kragspel wanneer hulle beskikbaar is. Khaka het 54 keer toegeslaan in T20-wedstryde en Kapp 88 keer.
In hul afwesigheid het die 20-jarige Ayanda Hlubi in die eerste wedstryd 40 lopies in drie beurte afgestaan, waaronder 22 in die 15de beurt wat Engeland op 'n drafstap laat seëvier het met vier paaltjies in Oos-Londen.
Die 21-jarige Eliz-Mari Marx het 39 lopies in die tweede wedstryd afgestaan. Sy het wel in die eerste wedstryd geskitter met 3/19. Hlubi het in die tweede kragmeting 2/19 in twee beurte geneem.
"Eliz-Mari boul met venyn en Ayanda kan omskep word in 'n ware spoedvraat. Albei kort egter bestendigheid. Omdat Marizanne en Ayabonga in hul dertigerjare is, moet ons Ayanda en Eliz-Mari ontwikkel," sê Adams.
• Die eendagwedstryde tussen Engeland en Suid-Afrika word op 4 Desember in Kimberley, 8 Desember in Durban en 11 Desember in Potchefstroom beslis.
- Die SA groep vir die eendag-reeks is: Laura Wolvaardt (k), Anneke Bosch, Tazmin Brits, Nadine de Klerk, Annerie Dercksen, Mieke de Ridder, Lara Goodall, Ayanda Hlubi, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Sune Luus, Nonkuleleko Mlaba, Chloe Tryon.




















