Suid-Afrika se kragmeting met die Wes-Indiese Eilande by die Wêreldbeker-kriekettoernooi vir vroue is weens reën afgelas, maar die een punt wat die Proteas verdien het, het hulle van 'n plek in die uitspeelrondes verseker.
Spel het Donderdag laat in Wellington, Nieu-Seeland, begin. Toe is die kragmeting verkort na 26 boulbeurte per span.
Die reën het egter weer uitgesak en die spelers het die veld in die 11de boulbeurt verlaat. Suid-Afrika was toe op 61/4.
Voordat die spelers die veld verlaat het, het Mignon du Preez (38*) en Marizanne Kapp (5*) die kastaiings vir die Proteas uit die vuur gekrap. Suid-Afrika was op 22/4 kniediep in die moeilikheid in sy kolfbeurt.
Suid-Afrika se laaste wedstryd voor die halfeind is Sondag teen Indië. Australië is die enigste ander span wat reeds verseker is van 'n plek in die halfeind.





















