Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan se laaste voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi het Vrydag op 'n vals noot op die Wanderers begin met 'n omgesukkelde Wes-Indiese Eilande én reën wat die span gekniehalter het.
Gelukkig vir die Proteas het dié einste reën ook hul basse van 'n gewisse nederlaag gered met die Windies-kolwers wat in die eerste van vier eendagwedstryde baljaar het. Hul boulers het die tuisspan ook vroeg in hul kolfbeurt in die knyp gehad en só byna die stryd beklink.
Met die Windies wat 234/3 in 45.3 boulbeurte in hul reën-geteisterde kolfbeurt opgestapel het, het die Proteas reeds op 87/5 in 17.4 gesteier op soek na 'n aangepaste teiken van 204 lopies om te wen.
Die tuisspan moes egter 20 boulbeurte trotseer om dit 'n voltooide stryd te maak, maar weens die reën is die stryd uiteindelik afgelas.
In môre se tweede kitsstryd, ook in Johannesburg, kry die Proteas weer 'n kans om die reeks op 'n wennoot te begin en om sake veral met hul kolfwerk reg te stel.
"Dis goed dat dinge in die eerste wedstryd so afgespeel het, al het die stryd uitgereën," het Tazmin Brits, aanvangskolwer van die Proteas, gesê.
"Ons het 'n paar lesse hieruit geleer, so eerder nou as later (in die reeks). Die span verstaan steeds wat moet gebeur en wat ons taak is. Daar is nog drie wedstryde en dis genoeg om 'n verskil in te maak."
Brits, wat 32 lopies geslaan het, het bygevoeg dat sy nie seker was of sy moes aanval of eerder verdedig en versigtig speel om haar paaltjie te behou nie.
Sy sê haar poging was daarop gemik om die kolfbeurt 'n beter begin te gee, omdat die kragspel tot net ses boulbeurte beperk is.
"Ek het toe later besef ons het 'n paar grenshoue nodig (om die beurt aan die gang te hou) en ek het vir een gegaan. Toe smyt ek my paaltjie weg. Maar ek het met 'n bietjie meer mening probeer kolf."
Vir Chloe Tryon, onderkaptein van die Proteas, was hul vertoning 'n teleurstelling, veral nadat hulle met die bal vroeg twee paaltjies platgetrek het.
Deandra Dottin (150* van 158 balle) en Hayley Matthews (51) was die Windies se sterre met die kolf.
- Die tweede eendagstryd begin môre om 10:00 op die Wanderers (regstreeks op SS Grandstand en SS 212).





















