Die veelsydige Chloé Tryon gaan weens die rehabilitasie wat sy vir rugpyn ontvang die Protea-vrouekrieketspan se komende eendagreeks teen Sri Lanka misloop.
Krieket Suid-Afrika (KSA) het Vrydag die Proteas se 14-tal vir die reeks, wat uit drie kragmetings bestaan, bekendgemaak. Die eerste wedstryd vind Dinsdag in Oos-Londen plaas.
Delmi Tucker, 'n veelsydige speler, is by Suid-Afrika se groep gevoeg wat die afgelope T20-reeks met 1-2 teen Sri Lanka verloor het. Sy neem die plek van Annerie Dercksen.
'n Plaasvervanger is nie in die plek van Tryon, wat die derde T20-wedstryd weens die rugpyn misgeloop het, by die groep gevoeg nie.
Sou die 16-jarige Karabo Meso, 'n paaltjiewagter, in die eendagreeks speelkans kry, sal dit haar buiging in dié formaat vir die Proteas wees. Sy het in die T20-reeks haar buiging vir Suid-Afrika se senior span gespeel.
• Proteas se groep vir die eendagreeks: Laura Wolvaardt (k), Anneke Bosch, Tazmin Brits, Nadine de Klerk, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Suné Luus, Eliz-Mari Marx, Karabo Meso, Nonkululeko Mlaba, Tumi Sekhukhune, Delmi Tucker.
• Dercksen is in Suid-Afrika se opkomende span ingesluit vir 'n oefenwedstryd Saterdag teen Sri Lanka in Oos-Londen. Twee spelers wat in die Proteas se groep vir die eendagreeks ingesluit is, Meso en die veelsydige Tumi Sekhukhune, kan ook Saterdag speelkans kry.

• Suid-Afrika se opkomende span se groep: Nondumiso Shangase (k), Annerie Dercksen, Lara Goodall, Gandhi Jafta, Karabo Meso, Seshnie Naidu, Kayla Reyneke, Tumi Sekhukhune, Oluhle Siyo, Miané Smit, Faye Tunnicliffe, Jané Winster.





















